Kersfees
top of page

Kersfees


Elke jaar as die Kersversierings en groot Kersbome in die winkels verskyn, raak ek opgewonde. Ek hou van Kersfees. Dit is ‘n besondere tyd van die jaar. Die kleure is warm en uitnodigend, dis bekend en maak jou hart sommer warm. Hier in Afrika, waar ons ‘n somerkersfees hou, is dit so ‘n bietjie anders as in die noordelike halfrond. Ons beplan volgens die weer en ons spyskaarte verskil dalk, maar ons is lief om ook die feesdag voluit te vier.


Mense kuier gemoedelik en gesels oor die jaar, wat verby is. Almal wil nog ‘n kuiertjie inwerk voor mense na hulle vakansie bestemmings vertrek. Daar word speserykoekies gebak, vrugtekoeke word heerlik bedruip met ‘n ou ietsie en noukeurig gebêre vir die teetafel in die feesseisoen. Planne vir besondere tafeldoeke, servette, blomme en feesliggies vir die Kerstafel word bespreek en aangekoop. Oukersaand word ook nie afgeskeep nie. Kortom, alles word fyn beplan en bedink.


Vanoggend by my skool het ons ‘n feestelike opening met Kersversierings op die aantreeblad gehad. Ons kinders het gesing en ek het so ‘n tinteling in my maag gevoel. Die Kersfeesgevoel het in my binneste geroer.


Die boodskap van Kersfees het vroeg op die eerste dag van November 2022 in my hart kom vasskop. Jesus, my Redder, is gebore. Hierdie Jesus-fees het my hierdie jaar vroeg geskud. Op die oomblik is my kop by ander dinge. Dis vraestelle en memorandums. Dis toesig waar jy ure lank op en af loop met jou eie gedagtes. Dis punte verwerk en baie merk. En toe tref die Kersfeesboodskap my so tussen die oë.


Ons is so besig met werk dat ons soms die essensie van dit, wat belangrik is, by ons laat verbygaan. Jesus is gebore sodat ons gered kon word. Dit is die grootste liefdesdaad, wat jy ooit sal beleef. Hy is gebore om die ganse mensdom te kom red. God, die Vader, het die mensdom so lief gehad dat Hy Sy enigste seun, Jesus Christus, gestuur het, om aarde toe te kom. Hierdie liefdesdaad red ons van die ewige dood en ons ontvang die ewige lewe. Ons kan by ons eie dood, die ewigheid betree en vir ewig saam met God om Sy troon lofliedere sing. “Vir ewig” is ‘n onbegryplike begrip! Al wat ek daarvan verstaan, is dat dit werklik baie lank sal wees en dat dit nooit sal ophou nie. Dit beteken ook vir my oneindige liefde, wat vir altyd gaan aanhou. Dít is God se liefde vir my. Dít het Hy vir my gedoen.


Ons loof U, Here. U is Heilig! Dankie vir U onuitputlike liefde vir my en vir elke ander mens op aarde! U is ons Koning tot in ewigheid.

bottom of page