top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Kan God iets anders sê as wat Hy in die Bybel sê?


God word gedurig buite konteks aangehaal. Sommige mense dink niks daarvan om sekere frases of verse in die Bybel uit hulle oorspronklike konteks te verwyder en om dit dan te hergebruik, soos wat dit hulleself pasnie. Toe ek dit onlangs gewaag het om vir iemand te sê hy haal God uit verband aan, was sy antwoord dat die Gees hom gelei het om daardie teks só te verstaan. Toe ek waag om van hom te verskil, was ek skielik onwelkom op sy “geestelike” speelveld. Die feit is dat God Homself nooit weerspreek nie. Ons kan nie Sy woorde aanpas om te sê wat ons wil hê dit moet sê nie.


Onsself is gou-gou op die agtervoete as ander óns uit konteks aanhaal. Dan moet ons nog meer ontsteld wees as mense dieselfde met God probeer doen. Hy sê nie vandag iets anders as wat Hy in die Bybel gesê en bedoel het nie. Ons moet dus baie versigtig wees dat ons nooit vir God in ons eie diens probeer neem nie. Hy is nie ons agternaprater nie. Nooit nie. Dit is presies andersom. Ons moet Hom rég hoor. Ons moet Hom rég aanhaal. Ons moet rég agterna sê wat Hy sê.

Comments


bottom of page