Jy kies nie die kaarte nie, maar jy kies hoe jy speel
top of page

Jy kies nie die kaarte nie, maar jy kies hoe jy speel


Do all you can, with what you have, in the time you have, in the place where you are - Nkosi Johnson het dit gesê. Hy is op 12 jarige ouderdom dood. Tot op daardie stadium was hy ’n kampvegter vir kinders wat HIV slagoffers is, soos hyself. Aan sy eie klein lyfie het hy beleef die lewe is nie regverdig nie. Ongelukkig was dit nog nooit regverdig nie. Dit sal ook nooit wees nie. Nie almal kry gelyke kanse nie. Nie alle kaarte in die pak is eweredig uitgedeel nie. Party mense daag uit die staanspoor in die lewe op met ’n agterstand. Hulle word gebore aan die verkeerde kant van die treinspoor. Hulle velkleur, sosiale posisie of geslag tel teen hulle. Ander mense beland later in hulle lewe weer in slegte omstandighede buite hulle beheer.

Vra vir daardie arme Poolse meisie

Van goor omstandighede gepraat, min dinge kan ooit erger wees as daardie anonieme Poolse meisie wie se enigste ‘fout’ was dat sy tydens die Tweede Wêreldoorlog op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Die Poolse Ondergrondse Beweging het ’n Duitse offisier in Warschau vermoor. Die Duitse weermag het uit weerwraak ’n honderd Pole bymekaar gemaak, hulle gemartel en toe tereggestel. Dit het gebeur in 25 Szucha Straat in Warschau. ‘n Onbekende Poolse meisie was deel van hierdie honderd mense. Kort voor haar dood het sy ’n paar hartseer woorde in gebroke Engels teen die muur uitgekrap: “Nobody thinks of me and nobody knows. I am so alone girl 21 of age and must die guiltless. 12. IX Sunday ZR.”

Vat vreugde, die Here S'n

Die lewe is onregverdig. Vra vir families wat geliefdes verloor het in sinnelose plaasmoorde. Of wat nou in Corona-tyd hulle werk verloor. Mense wat egter dink vreugde lê opgesluit in daardie pot goud aan die einde van die reënboog, is op die ou end sielsongelukkig. Vreugde is te vind in Iemand: in God. In 1 Tessalonisense 1:6 skryf Paulus dat die Heilige Gees die oorsprong van ons dankbaarheid en vreugde is. Hierdie geluk vloei van Persoon tot persoon, vanaf die Here se Gees na ons. Hierdie vloei van vrede, blydskap en dankbaarheid van die Gees af maak ons sielsgelukkig. Paulus skryf ook in 1 Tessalonisense 5:16-18 dat om dankbaar te wees in alles die wil van God is. Anders gesê, om ongelukkig en ondankbaar te wees, is om buite God se wil te wees. En dis plein weg stylloos!

(Verkort vanuit; Kry styl, Jesus S’n, 2019, Lux Verbi)

bottom of page