Jy kan dit doen!
top of page

Jy kan dit doen!


Lees Romeine 8:4


Romeine 8:4 is darem een van die mees afgeskeepte kanontekste in die Bybel. Dit vertel van die fenomenale werk van die Gees as die Een, wat ons lei in gehoorsaamheid aan God. Uiteindelik is die wet doenbaar! Die Gees doen dit op so ‘n manier dat ons in dié proses die wet van God kan gehoorsaam. Sekerlik bedoel Paulus nie hier elke jota en titel van die wet nie, maar die algemene gees van die wet, waaraan ons nou kan voldoen.


Ek het groot geword met die idee dat die wet van die Here ondoenbaar is. Ek moes net altyd ekskuus sê wanneer die wet in die kerk gelees is. Toe ontdek ek Romeine 8:4, waar ek hoor dat die wet doenbaar is en dat ek en jy, wat Jesus navolg, aan die wet se basiese eis van gehoorsaamheid kan voldoen. Kortom, wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lei, dan skiet die wet wortel in ons hande en voete, in ons woorde en dade. Dan doen ons die wet, nie as ‘n slaafse lysie gebooie nie, maar as ‘n verhouding met die lewende God. Die wet is doenbaar, onderhoubaar! Dis immers nou in die Gees se hande. Daarom is die wet van God nou sy bondgenoot in jou en my lewe is. Dis nou die Gees se instrument van genade, nie langer ‘n rottang of ‘n slawedrywer nie.


Gebed:

Gees van Christus, wat ‘n eer dat die wet nou in U hande is. Ek loof U hiervoor. Amen.

bottom of page