Jy is nie niks as jy niks doen nie
top of page

Jy is nie niks as jy niks doen nie


In Engels praat ons van mense as “human beings.” Eintlik is dit nie heeltemal reg nie, want baie van ons is “human doings.” Ons vind ons identiteit in dit wat ons doen. Ons is en word dit waarmee ons besig is. Wanneer ons in hierdie slagyster trap, dan moet ons al hoe meer doen, en dit ook al hoe beter doen, om ons eie waarde te behou. Dan dink ons dat ons eintlik net waarde het vir ander mense solank as wat ons presteer. Die slim ouens noem dit die “performance acceptance trap.” Wag, moet my nie verkeerd hoor nie. Ons moet ook dinge doen. Ons moet werk. Ons moet ons Godgegewe talente gebruik. Die lewe moet gebeur. Maar dit is iets anders wanneer ons identiteit volledig opgaan in ons aktiwiteite. In ‘n tyd van “Corona lockdown” waar meeste mense nie mag werk, of buite hulle huise mag rondbeweeg nie, is dit een van die groot uitdagings om onsself te vind in wie ons is. Hier is ’n paar belangrike Bybelse padaanwysers:


  • Ek is nie niks as ek niks doen nie. My waarde voor die Here word nie uitgemeet in wat ek doen nie. Vra maar vir die Fariseër in Jesus se bekende gelykenis in Lukas 18:9-14. Hy meen hy kan God beïndruk met sy jongste godsdienstige prestasies: “ek vas twee keer per week; ek gee ’n volle tiende…” Maar dit laat God koud. Hy meet nie ons waarde aan dit wat ons vir Hom probeer doen nie. Hy is nie met voortdurende prestasiemetings op ons besig nie. Hy verwag nie teenprestasies waarmee ons Hom moet beïndruk, of ons waarde in sy oë mot probeer verhoog nie.

  • Christus het reeds die prestasiemeting namens myself suksesvol voltooi. Dit wat God van my vra, het Jesus om my onthalwe gedoen (Rom 3:24-27). God het Sy offer met oop arms aanvaar.

  • Ek is vry omdat ekself daar langs die tollenaar van Lukas 18 gestaan het met ’n smeekgebed: “O God, ontferm Uself ook oor hierdie sondaar!” Daar’s nou vrede tussen God en my (Rom 5:1). Daar is geen veroordeling meer vir my omdat ek in Christus is nie (Rom 8:1).

  • In Corona-tyd ontdek ek opnuut dat ek ’n geliefde van die Here is. Hy het my opgetel van niks en my Sy kind gemaak.

bottom of page