Jy is deel van God se storie
top of page

Jy is deel van God se storie


Vir baie lank het ek geworstel met die vraag: wat is God se doel met my lewe? Waar pas ek by God se storie in? Ek was ‘n vrou, ‘n ma, ‘n onderwyseres en vriendin, maar soms het dit gevoel asof ek nog iets moes doen om my lewensdoel te vervul. Toe kom wys God my dat alles eintlik so eenvoudig is, dat ek in my daaglikse handel en wandel my doel kan uitleef.


Ons lees in Ps. 139 dat ons storie reeds in die moederskoot begin. Jou storie is deel van God se groter storie. God het besluit dat hy jou, met al jou unieke eienskappe, in Sy storie wil gebruik.


God wil vir my en jou gebruik om in Sy koninkryk te dien. In 1 Petrus 2:9 lees ons: Julle is ‘n koninkryk, wat uit priesters bestaan, ‘n nasie, wat heeltemal in God se diens staan, ‘n volk, wat heeltemal God s’n is. Dit het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hy wat julle uit die duisternis in Sy wonderlike lig ingeroep het.


Die werk wat Jesus aan die kruis gedoen het, definieer ons lewens. In Louis Giglio se boek, Don’t give the enemy a seat at your table, lees ek die volgende: You are wanted by God, made in the image of God and worthy of Christ’s love because He has chosen to place worth upon you. Your identity was born in the death, burial and resurrection of Christ.


Ek glo dat my doel is om by die huis en by die werk in God se diens te staan. Om in ‘n verhouding met Jesus met my mond en dade ander te dien. God se heerlikheid moet weerspieël word in alles wat ek doen. Hoe kry ek en jy dit reg? Deur tyd saam met Jesus deur te bring en dag na dag ‘n bietjie meer soos Hy te probeer wees. Gaan ek soms daarmee sukkel? Natuurlik! Gelukkig hou God se genade nooit op nie.


Jou lewe sal betekenisvol word, wanneer jy kies dat die lewe nie oor jouself gaan nie, maar oor God se Groot Storie en wanneer jy besef dat jy ‘n beduidende rol in daardie storie speel.


bottom of page