Jy bou nie jou lewe volgens jou eie bouplanne nie
top of page

Jy bou nie jou lewe volgens jou eie bouplanne nie


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor ons wat nie ons lewe volgens ons eie bouplanne nie.
Jy bou nie jou lewe volgens jou eie bouplanne nie

Argitekte ontwerp bouplanne. Bouers bou dit dan van daar af. Die meeste mense doen dieselfde met hulle lewens. Hulle ontwerp dit, teken dit en bou dit. Die meeste mense speel eienaarbouers van hulle lewe. Hulle maak self al die keuses oor hulle beroep, hulle adres, hulle vrye tyd, hulle leefstyl … Baie gelowiges doen dieselfde. Ja, hulle glo in God en dien Hom, maar Hy is nie régtig die Ontwerper, Bouer en Binnehuisversierder van hulle lewe nie.


Wat van jouself? Speel jy ook eienaarbouer? Solank as wat jy net jou eie ideale en planne najaag en probeer uitleef, doen jy presies dit. Dan ontwerp jy jou lewenshuis. Dan befonds en bou jy dit op eie stoom. Dan gaan jy ongelukkig ook met ‘n onvervulde lewe opgeskeep sit. Dan gaan jy lewenslank saam met U2 sing:

“I still haven’t found what I’ve been looking for.”

Dit maak nie saak hoeveel berge jy uitklim, hoeveel geldelike beleggings jy maak, hoe 
deeglik jy jou lewe beplan of beveilig nie. Solank as wat die Here se wil nie diep weerklank in jou lewe vind nie, gaan jy onvervuld wees. Geen plek op aarde gaan jou dan gelukkig genoeg maak nie. Jy kan nie emigreer na geluk of na ’n vervulde lewe toe nie. Jy kan ook nie daarheen in jou werk bevorder word nie. Jy ontdek God se pad en lewensvervulling slegs daar aan Sy voete. Jy bid elke dag:

“Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook hier op die aarde.”

Dan laat jy die bouplanne, die bouwerk en die binnehuise versiering oor aan die Here. Hy sal jou lewe deur sy Gees in ’n tempel tot sy eer verander, soos wat Paulus in 1 Korinthiërs 6:18-20 skryf.

bottom of page