Julie 2021: Suid-Afrikaners onder die besembos
top of page

Julie 2021: Suid-Afrikaners onder die besembos


Liezel Lüneburg reflekteer oor wat in Julie 2021 gebeur het in Suid Afrika.
Julie 2021: Suid-Afrikaners onder die besembos

Julie 2021 sal nog lank onthou word as ’n tyd van uiterstes. Verwoesting, wanorde, anargie, vrees, verslaentheid, wanhoop, pyn en lyding, desperaatheid, geweldige armoede en hongersnood. Eers was daar die derde Covid-vlaag en toe die gebeure in KwaZulu-Natal en elders. En moenie vergeet van die aanvang van die geregtelike ondersoek na die Life Esidimeni-gebeure, wat weer wonde oopkrap en elkeen van ons pynlik bewus maak van die hartseer, ongeregtigheid en onregverdigheid, wat skaars vyf jaar gelede reg onder ons neuse plaasgevind het nie. Níémand is onaangeraak deur hierdie kleurlose, grou maand in die middel van die Suid-Afrikaanse winter gelaat nie.


Ek weet nie van jou nie, maar ek spandeer op hierdie stadium ’n bietjie tyd onder die besembos, ’n dagreis ver die woestyn in. Hier sit ek en teem: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Klink dit bekend? Destyds het Elia ook moed verloor, geen uitkoms gesien nie en hy wou maar eerder in die woestyn sterf.


Waar is God dan? Wat doen Hy om dit makliker te maak? Hy stuur versterking sodat ek krag en stamina het om daardie 40 dae deur die woestyn te stap. En soms neem dit selfs langer as 40 dae om weer beter te voel, om weer die lig in die donkerte te sien. God gee my krag om deur hierdie moeilike tye te worstel. Hy luister, maak Homself aan my bekend en stuur uitkoms. God het Elia geantwoord deur sy verbygaande gevoelens van doelloosheid dood te druk en het hom met nuwe krag en ’n nuwe opdrag na die beskawing teruggestuur. Hy het hom nié jammer gekry, in watte toegedraai en toestemming gegee om uit te tree nie. Elia se lewe as profeet het nie makliker na hierdie episode van depressie geraak nie en tog kon hy sekerlik later terugkyk en God se hand in sy lewe en genesing sien. God het ook vir hom ’n getroue maat gestuur. Elisa sou later oor en oor verklaar: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”


Aan die einde van ’n moeilike lewe stuur God ’n wa van vuur met perde van vuur om hom in ’n stormwind die hemel in te neem. Elia kon in retrospeksie Paulus se woorde eggo: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”


En dít is genoeg rede om op te staan en aan te gaan!

bottom of page