Jou vrae verf jou geloof in ’n hoek in, of nie!
top of page

Jou vrae verf jou geloof in ’n hoek in, of nie!


Stephan Joubert vra in sy nuutste Goeie Nuus of jou vrae jou geloof in 'n hoek in verf, of nie?
Jou vrae verf jou geloof in ’n hoek in, of nie
“Doen jy genoeg vir die Here?”

As ek dit vir jou sou vra, is ek seker jy sal dadelik sê:

“Nee!”

Dieselfde sal gebeur as ek sou vra of daar genoeg lewe in die kerk is. En of daar genoeg jongmense is wat kerklik betrokke is. En of gelowiges die Here lief genoeg het. Sulke tipe vrae forseer jou om op jou eie tekorte voor die Here te fokus, asook op ander mense s’n. Help dit? Nee, nie regtig nie. Dit verf jouself en die res in ’n magtelose, godsdienstige hoek in. Kom ons wees eerlik: niemand kan ooit honderd persent positief antwoord op vrae soos hierdie nie. Beter vrae is nodig. Ek praat van vrae, wat jou nie gedurig met ‘n hand vol verwyte oor jou geestelike gebreke opgeskeep laat sit nie. Of wat elke keer ’n nuwe dosis skuldgevoelens in jou lewe aflaai nie.


Goeie vrae verskuif jou fokus na die Here toe. En na mense toe wat verskilmakers is. Ek praat van vrae soos:

“Waar het jy in die afgelope week gesien hoe God se genade iemand se lewe aanraak?”
“Watter geestelike groei het jy in die afgelope tyd opgemerk in jou lewe?”
“Watter mense het in hierdie tyd ‘n verskil gemaak aan armes se omstandighede?”
“Watter mooi dinge gebeur tans in jou gemeente?”
“Watter mense bring hoop in jou lewe en wat leer jy by hulle?”

Vra beter vrae, wat die soeklig laat val op God se goedheid en op mense se uitleef hiervan. Vra vrae, wat jou eie aandag verskuif na al die regte dinge, wat jyself en ander mense doen vir die Here. Skuif ook jou lewe se fokus agter jou vrae aan. Kyk minder raak hoe ander mense droogmaak. Of hoe kerke gedurig foute maak. Sien raak wanneer die Here se mense tot sy eer leef. En wanneer hulle in liefde leef. Vier fees hieroor. Dan is jy nie in die hoek vasgeverf nie.

bottom of page