Jou lewe word nie gebou in jou eie fabriek nie
top of page

Jou lewe word nie gebou in jou eie fabriek nie


Jy is nie die argitek van jou eie lewe nie. Jy het nie al jou lewensplanne eiehandig ontwerp nie. Jy het ook nie jou lewe in jou eie fabriek aanmekaar gesit nie. Nog minder speel jy gedurig eienaarbouer, wat leef soos wat dit jou pas. Jy is hier op aarde weens God se genade. Jy is hier omdat Hy dit so wil. Daarom vertrou jy jouself gedurig toe aan Sy Gees as bouer en as binnehuise versierder van jou lewe. Jy bou jou lewe dag vir dag op die Here as jou Rots, soos wat Jesus in Matteus 7 leer.


Jou lewe het een groot doel en dit is om God te verheerlik. So skryf Paulus in Kolossense 3. Daarom leef jy nooit met oordadige selfversekerdheid nie. Jy sê graag saam met Jakobus 4:15: “As God wil en ek leef, dan sal ek dit of dat met my lewe doen.” So klink ’n goedgeleefde lewe. So klink ’n leefwyse, wat gedurig die regte aanpassings maak aan al die planne, wat jy vir jou eie lewe in gedagte het. Nog meer, so ’n nederige leefwyse voor God vervang altyd jou eie planne. Dit laat die Here se plan in jou lewe wen.

bottom of page