top of page

Jesus-volgelinge moet strooipoppe verbrand


Ek kyk nou die dag hoe die teoloog, Tom Wright, ‘n lesing gee, waarna hy deelneem aan ‘n vraag- en antwoordsessie by ‘n universiteit. Wright is ‘n baie diepdenkende Christen-teoloog, wat gewoonlik mense met die allergrootste respek hanteer. Sy interaksie met een vraagsteller het my nogal opgeval. Die persoon was duidelik ‘n nie-gelowige, met sy eie rigiede en vooraf opgestelde idees oor Christen-teoloë. Hy begin toe deur iets te sê, soos: “As jy sê ...” en “Jy beweer dus ...” en “As Christen glo u mos ...” Terwyl ek luister, besef ek dat hierdie persoon ‘n klomp aannames oor wat Wright sê en glo maak, wat ten beste onvolledig is en ten slegste geheel en al onwaar. Hy maak toe sy klomp stellings klaar, waarna hy aan Wright ‘n vraag vra.


Wright se reaksie was baie interessant, dog beskeie.


“I don’t know how to react to your question because I don’t recognise my own point of view in what you said.”

Die vraagsteller het dus die kruks van wat Wright gesê, geheel en al gemis! Dis nie dat Wright onduidelik was nie. Trouens, die meeste ander vraagstellers het presies verstaan wat hy probeer oordra het.


Daar was ‘n tyd waar mense nog werklik na mekaar kon luister, al verskil hulle. Daar was ‘n tyd, ek onthou dit nog, waar mense jou werklik probeer verstaan het. Daar was ‘n tyd toe, wanneer iemand gesê het: “Daai ou glo mos dit ...” of “Hy dink mos dat ...”, mense die persone, oor wie hulle praat, nog relatief korrek aangehaal het. Daardie era is skynbaar verby. Luisteraars dink dat wanneer hulle een sinnetjie van wat iemand gesê het, gehoor het, hulle al gereed is om ‘n antwoord te kan gee, of dat hulle verstaan wat iemand sê. Hulle verstaan mos nou. Ons het immers mos nou gehoor.


Die eerste reël van begrip en luister is om aan te neem dat enige persoon se opinie waarskynlik in werklikheid vir ons intelligenter sal klink, wanneer ons werklik verstaan wat hy sê. Iemand klink aanvanklik soms vir ons dom, bloot omdat óns nie ordentlik verstaan nie. Mense neem gewoonlik aan dat ander mense nie ‘n saak so goed verstaan soos hulle nie. Hulle opinies kan daarom nie so goed deurdag soos myne wees nie. Die gevolg is dat wanneer ons dan reageer op iemand se woorde, ons reageer teen ‘n onvolledige verstaan van wat die persoon wou sê. Ons reageer dus nie eintlik op sy volle, deurdagte opinie nie, maar op mý eie gebrekkige, karikatuuragtige verstaan van sy standpunt.


In Analitiese Filosofie noem ons so ‘n halfhartige verstaan van iemand anders, ‘n strooipop. Die vraagsteller het dus ‘n strooipopverstaan gehad van Wright se standpunt. Tydens die twee wêreldoorloë het weermagte strooipoppe gebruik om rekrute (beginners) op te lei in een-tot-een-gevegte met bajonette. Dis veiliger vir die beginner, want die strooipop is nie ‘n regte opponent nie, maar slegs ‘n ligter en eenvoudiger weergawe van die ware ding. ‘n Strooipop kan nie weerstand bied nie. Dit is leweloos en intelligensieloos. Dis wat ons heel dikwels met ons gespreksgenote doen: Omdat ons dikwels self nie verstaan nie, omdat ons onvolledig luister, water ons hulle argumente tot ‘n strooipop af. Ons skep ‘n dooie, lewelose, afgewaterde en onintelligente weergawe van hulle opinie, waarop ons dan eenvoudige antwoorde opdis. Dan dink ons ons is vreeslik slim.


Ongelukkig vaar Christene nie veel beter as enige iemand anders nie. Net een vinnige kyk na ons sosiale media platforms demonstreer dit ongelukkig baie vinnig. Ons maak gedurig van mekaar se standpunte strooipoppe, wanneer dit kom by sake soos politiek, seksualiteit, siening van die Bybel en nog meer. Ons maak veral strooipoppe van nie-gelowiges se opinies oor, onder andere, ongeloof en evolusie. As ons egter glo dat Jesus die Waarheid is en dat Hy ons vry maak, dan moet ons Hom toelaat om ons ook vry te maak van alle strooipoppe, wat ons huldig aangaande ander mense se sienings.


Enige standpunt lyk van ver af stupid, wanneer ek nie regtig diep luister nie. Wanneer die persoon, wie se punt dit is, dit vir jou verduidelik, klink dit nie meer so simpel nie.


Jesus het gesê: “As julle aan My woorde getrou bly, is julle waarlik My dissipels en julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.”


Kom ons verbrand dus alle strooipoppe in ons lewens.

Comments


bottom of page