Jesus, sisteme en transformasie-leierskap
top of page

Jesus, sisteme en transformasie-leierskap


Ek ken ‘n gewaardeerde gemeentelid, wat onlangs sy MBA-verhandeling oor transformasieleierskap gedoen het. Dis die nuwe buzz word in leierskapkringe. Leiers bring gesonde transformasie en vernuwing. Dis goed en reg so. Ons het inderdaad goeddeurdagte en gepaste verandering nodig in die meeste van die arenas, waarin ons leef en werk. In so ‘n transformasieproses is dit egter van die grootste belang om te kan weet wat moet verander en wat nie. Dit mag dalk vir sommige mense eenvoudig klink, maar dit is ongelukkig so dat baie transformasie-leiers juis hiermee worstel. In verband hiermee gee ‘n kollegavriend nou-die-dag vir my uiters goeie raad. Hy het gesê:


Don’t fall in love with the system of your organization, because then you would never be able to change it.


Leiers werk bowenal met mense, maar ook met sisteme, strategieë en strukture. Mense verander egter nie sisteme en strukture, waarop hulle verlief is nie. Die pyn en ongemak is te groot.


Daar is een gedeelte in die Jesus-verhaal, wat vir ons uitermate baie kan leer aangaande hierdie beginsel. In Matteus 9:17 sê Jesus:


‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dít doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.


Dié metafoor is uiters gepas. Nuwe wyn skei gas af, omdat dit nog besig is om te gis Daarom vra dit vir ‘n nuwe wynsak, wat nog kan uitsit, meegee en strek sodat dit die voortgaande gisproses kan akkommodeer. Ou wynsakke is onbuigbaar, rigied en bros. Wanneer die nuwe wyn begin gas afskei, dan bars en skeur dit onder die druk. Jesus verwys natuurlik hier na die Wet en die offerstelsel van die Ou Testament waarvan die tyd verby was. Jesus is nou die Nuwe Wyn, wat ‘n nuwe era inlei en geheel en al ‘n nuwe perspektief op God en geloof bring! Dit maak tog nie sin nie. Dit gaan mos oor die wyn en nie die houer, waarin dit gehou word nie.


Daar is vandag leiers wat so verknog kan raak aan hulle wynsakke, hulle sisteme en strukture en strategieë dat hulle skoon van die wyn vergeet. ‘n Stelsel of struktuur moet tog die waardes (wyn) van die maatskappy dien en nie andersom nie. In ‘n gemeente moet die struktuur en planne tog die evangelie dien. Daarom kan transformasieleiers nie bekostig om verlief te raak op die stelsel of struktuur nie. Dit gebeur egter soms dat sulke leiers wél die ou sisteem transformeer tot ‘n nuwe, meer effektiewe struktuur. ‘n Paar jaar later raak dit dan weer nodig om die nuwe stelsel (wat al klaar weer oud geword het) te verander. Dan skop die leier weer hierteen, omdat die nuwe (ou!) struktuur sy liefde, sy baba geword het.


Ons moet verlief bly op die regte dinge en nooit ons liefde aan ‘n stelsel of struktuur skenk nie. Dis van verbygaande aard. Ons liefde moet eerder behou en bewaar word vir Jesus alleen en die waardes, wat daaruit vloei, bewaar word. Hierdie dinge mag nooit verander nie. Dan moet ons ook natuurlik liefde behou vir die mense, wat Hy in ‘n organisasie of gemeente vir ons gegee het.


Stelsel is dinge wat móét verander, juis ter wille van die missie en waardes van ‘n organisasie.

bottom of page