Jesus se resep vir geluk
top of page

Jesus se resep vir geluk


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor Jesus se resep vir geluk
Jesus se resep vir geluk

Ek sit eendag saam met ‘n klein groepie vriende, toe ons oor ouerskap begin gesels. Ons vra toe die vraag wat die één ding is, wat ons elkeen vir ons eie kinders toewens. Die meeste mense het gesê dat hulle hulle kinders geluk sou toewens. Dis natuurlik heel verstaanbaar. Maar uit die res van die gesprek het dit duidelik geraak watter soort strategie die meeste ouers toepas om hulle kinders se geluk te verseker. Sommiges gee vir hulle kinders baie sakgeld; ander probeer hulle kinders se selfbeeld verbeter sodat die kinders goed oor hulleself voel. Ander ouers leer vir hulle kinders sekere lewensvaardighede aan, terwyl ander ouers weer ‘n goeie verhouding met hulle kinders probeer kweek. Nog ouers leer vir hulle kinders goeie maniere sodat mense hulle nie eendag moet sleg behandel nie. Geeneen van hierdie goeie ouers het egter Jesus se idees oor geluk gevolg nie.


Dit wil voorkom asof almal geluk najaag. Die gelukkige mense is mense, wat goed voel oor hulleself en wat vriende het wat hulle ook so laat voel - só dink ons. Gelukkig is die rykes. “Die Here het my geseën” - so praat ons wanneer ons ‘n nuwe motorkar gekoop het of ‘n verhoging ontvang het. Ons glo in Jesus, maar ons leef asof ander dinge vir ons belangriker is. Ons sê wel dat mag, geld en kortstondige plesier ons nie sal gelukkig maak nie, maar tog dui die nuutste studies daarop dat dit maar steeds die algemene drome is, wat ons vir ons kinders het en blykbaar die doel van ons Westerse mense se lewens is.


Jesus het egter bitter min oor die nastreef van lewensgeluk gepraat. Wanneer hy gepraat het van dinge, wat ons moet nastreef, het Hy slegs gepraat van die Koninkryk in al sy kleurryke dimensies, soos liefde vir God en mense.


Tog het Hy heelwat gesê oor watter soort mense wel geluk beleef. In die saligsprekinge – Jesus se manifes vir ‘n nuwe lewe in Sy koninkryk – sê Hy ‘n paar skokkende dinge aangaande gelukkige mense.


Geseënd (Grieks makarios = gelukkig) is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matteus 5:3)


Daar staan letterlik: Geseënd is die “armes van gees...”, die mense wat besef hulle is geestelik arm.

Hoe kan dit wees? Dit maak geensins sin in ons wêreld vandag nie. So keer Jesus telkens ons wêreld en ons sieninge van die wêreld op sy kop. Maar wat bedoel Jesus? Mense wat arm van gees is, is mense wat besonder nederig is. Dis mense wat besef dat hulle niks uit hulleself kan doen nie. Dis egter veral mense, wat besef dat hulle niks in hulle morele bankrekening het, wat God kan beïndruk nie. Hulle is inderdaad geestelik en moreel árm. Hulle het niks om God te bied nie. Dis egter ook mense, wat weet dat God alleen hulle geestelik ryk kan maak. Jesus het arm geword sodat ons ryk kan wees (2 Kor 8:9). Hierdie mense besef dat hulle geestelik hulpeloos is en dat hulle geheel en al van God se genade afhanklik is.


So waarom beweer Jesus dat slegs armes van gees kan gelukkig wees?

  • Want mense wat dink hulle is ryk, sal nooit na God se genade reik nie. Dis slegs Jesus se genade, wat ons laat voel dat ons onvoorwaardelik geliefd is.

  • Mense wat arm van gees is, besef hulle verdien niks nie en daarom maak die geringste klein gelukkie, wat hulle tref, hulle ekstaties bly en diep dankbaar!

  • Mense wat hulleself as geestelik ryk beskou, raak kwaad wanneer slegte dinge met hulle gebeur, want hulle dink hulle verdien beter. Daarom is hulle die meeste van die tyd ongelukkig, wanneer hulle nie kry wat hulle wil hê nie. Armes van gees raak nie vies of geïrriteerd, omdat hulle nie hulle sin kry nie, want hulle weet hulle verdien in elk geval niks nie.

Natuurlik gaan Jesus dan verder in Matteus 5, maar arm van gees is waar dit alles begin. Ek is desperaat behoeftig voor God. Ek begeer sy genade met alles in my; daarom is die kruis van Jesus vir my die wonderlikste geskenk op aarde! Die kruis word my lewensrigting en dit laat my verstom oor God se liefde vir my staan.


En dan? Dan word ek na ‘n rukkie verras met die gewaarwording dat ek ‘n gelukkige mens is.

bottom of page