top of page

Jesus kry jou veilig tuis


Michael Murphy was ’n Navy Seal in die Amerikaanse weermag. Op 28 Junie 2005 het hy sy eie lewe opgeoffer om ‘n medesoldaat, Marcus Luttrell, se lewe te red, toe hulle deur 40 Taliban soldate in Afghanistanvasgekeer is. Op 13 Julie is hy in die VSA in die Calverton National Cemetry begrawe. Terwyl sy ma, Maureen, daardie dag na haar motor teruggestap het, het ’n teksboodskap skielik op haar selfoon verskyn. Dit was ’n teksboodskap, wat haar einste seun Michael vier maande tevore gestuur het, toe hy in Hawaii aangekom het -dit het toe eers op haar selfoon deurgekom. Dit het gelees: “Momma, don't worry. I'm home safe and sound.” Maureen was oorweldig. As ’n diep gelowige vrou het sy, te midde van haar trane, geweet haar seun is nou regtig tuis!


Soms weerklink die evangelie glashelder, wanneer die dood se skaduwees rondom ons val. Dit het juis aan die kruis gebeur, terwyl Jesus se eie dood nadergekruip het. In Lukas 23 lees ons hoe die man aan die kruis langs Hom skielik pleit: “Dink asseblief aan my, Here, wanneer U in U koninkryk aankom.” Hierdie man het geweet beide van hulle se dood is naby. Hyself was op pad om sy verdiende loon in die doderyk te verwerf,omdat hy lewenslank aangejaag het … maar nie Jesus nie. Toe hoor hierdie gekruisigde die beste woorde ooit hier in die doodsnikke van sy lewe. Toe hoor hy hoe Jesus vir hom sê: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees!” Hierdie man het slegs ’n gedagte by Jesus gebedel, maar toe word die hemelse rooi tapyt voor hom uitgerol. Terloops, vandag nog doen Jesus dieselfde. Hy kry ons veilig tuis. Hy maak seker dat, wanneer ons aardse reis oor en verby is, daar ’n veilige tuiskoms op ons by Hom wag.

Comments


bottom of page