Jesus in die fokus
top of page

Jesus in die fokus


Wanneer die Gees werk, val die klem altyd op Jesus. Dis 'n beginsel wat ek regdeur die Nuwe Testament raakloop. Jesus self het beloof dat dit sal gebeur. Die Gees sal Hom verheerlik as Hy weggaan (Johannes 16:14). Die Heilige Gees is nie ‘n aandagtrekker nie. Hy skuif graag agter Jesus in. Sy werk is om die fokus op Jesus te hou. Daarom sien ek dat die Gees kliphard aan die werk is in kerke waar Jesus vreesloos verkondig word.

Te veel kere maak ons die fout om te dink ons moet oor die Gees praat en skryf en preek voordat Hy in die fokus staan. Dit werk eintlik andersom. Hoe meer ons Jesus in die voorgrond plaas, hoe meer werk die Gees agter die skerms om lewens te transformeer. Vat maar Petrus se preek hier op Pinksterdag. Dit handel grootliks oor Jesus- oor hoe Hy gesterf het maar ook hoe God Hom opgewek het in heerlikheid. Terwyl Petrus hierdie woorde oor Jesus met die skare gepraat het, het die Gees in dieselfde asem in hulle harte kragtig gewerk sodat ‘n groot skare tot bekering gekom het.

Moenie die Gees se werk ooit onderskat nie. Praat oor Jesus soos Petrus en lewens sal verander. Deel dieselfde inhoud oor Jesus as wat Petrus hier doen en die Gees sal besig wees om mense se harte aan te raak.

Gebed

Jesus ek verheerlik U. Dankie dat U die volle betaalprys vir al ons sondes is. Amen

bottom of page