Jaloesie is die Gees se vyand
top of page

Jaloesie is die Gees se vyand


In sy nuuste Heilige Gees artikel, skryf Stephan Joubert oor die effek van die Gees in ons lewens.
Jaloesie is die Gees se vyand

Waar die Gees werk, raak mense magneties. Hulle liefdevolle woorde en Geesgevulde dade gryp ander aan die hart. Hulle nederigheid en opregtheid is magneties. Presies dit het in Jerusalem met die apostels gebeur. Mense van oraloor het begin praat oor die groot dinge, wat hulle in die Here se Naam doen. Ook het hulle gemeente aanhou met groei. 

Toe gebeur die onvermydelike: jaloesie het sy aaklige kop uitgesteek! Die Joodse Raad het weer kennis geneem van die groot invloed van die evangelie van Christus en besluit om ‘n stokkie daarvoor te steek. Toe laat hulle die apostels arresteer. Kan jy dit glo? Helaas, ja.


Ook vandag is die evangelie van Christus steeds ‘n bedreiging. Die vyand kan dit nie uitstaan dat mense deur Christus uit sy hande geroof word nie. Hy kan dit nie hanteer dat doodgewone mense hulle lig so laat skyn dat die wêreld vir Jesus begin raaksien en aan God die eer gee nie. Daarom dat jaloesie orals ontstaan, waar die Gees kragtig aan die werk is.


Moenie terugdeins as ander mense bedreig voel wanneer die Gees van die Here in en deur jou werk nie. Dis deel van die stryd van geloof. Nee, moenie sulke mense veroordeel nie. Bid met liefde vir hulle en hou jou fokus slegs op Christus. Hou ook aan om goed te doen en laat die res aan God oor.


Gebed:


Here, bewaar my van die Bose. Amen.

bottom of page