Is jy betyds?
top of page

Is jy betyds?


In sy nuutste Heilige Gees artikel vra Stephan Joubert of jy betyds is vir God se groot planne van vandag?
Is jy betyds?

Die Here doen twee groot dinge vandag: Hy deel hemelse brood aan al sy geliefdes uit (Eksodus 16) en Hy deel ook splinternuwe lewe uit (2 Korintiërs 4). God is vandag aan diens. Trouens, Hy verskyn betyds by elke dag, wat die naam vandag dra. Hy was nog nooit laat vir sy afspraak met elkeen, wat vandag leef nie. Regdeur die eeue het God elke keer vandag verskyn tot hulp en bystand van almal, wat Hom aanroep. God is die God van vandag, nie net van gister en môre nie. Ja, dit ook. God het vele roemryke gisters agter Hom en môre gaan daar ‘n reuse oorwinningsoptog wees as Christus terugkeer, maar vandag is tans Sy dag. Dis Sy werksdag, Sy omgeedag, Sy genade-uitdeel-dag.


Vandag is die dag van redding, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 6:2 skryf. Dis die groot dag waarop die Gees jou wil vervul en gebruik in Sy diens. Vandag wil Hy jou toerus met krag uit die hoogte. Hy kan regtig nie wag tot môre nie. Dis te laat; dis nog te ver in die toekoms. Vandag wil God brood uitdeel en oorvloedige lewe verniet weggee. Vandag wil Hy die wêreld verander. Jy moet ook daar wees! Vandag wil Hy jou lewe versier met Sy hemelse genade. Is jy betyds vir Sy groot planne vir vandag? Of kuier jy nog tydverdwaald in gister rond?


Gebed:

Vul my vandag met U krag, Heilige Gees. In Jesus se Naam vra ek dit. Amen.

bottom of page