top of page
Elmarie van der Westhuizen

Is Jesus regtig my eerste liefde?


Vijay Menon het as bekeerde Hindu ontdek wat dit is om Jesus lief te hê, régtig lief te hê. In sy, Growing as a Disciple of Jesus Christ, vertel Vijay dat hy al vir baie Christene gevra het wat hulle dink God die graagste van hulle wil hê. Die antwoorde is wydverspreid, o.a. om te groei in heiligheid, om daagliks die Bybel te lees, gereeld te bid, behoeftiges te help, Sondag kerk toe te gaan. Terwyl hierdie antwoorde nie noodwendig verkeerd is nie, is dit nie wat God die graagste van my wil hê nie. Hy wil dat ek Hom lief sal hê bo alles, dat Hy my eerste liefde sal wees.


Hierdie eerste liefde beteken dat my liefde vir Hom groter sal wees as my liefde vir myself, vir my dierbares, vir my werk en selfs vir dit wat ek graag my “bediening” noem. Dit beteken dat ek graag tyd by Jesus, tyd aan my Vader se voete sal spandeer. Wanneer ek in my stiltetyd sommer net Sy teenwoordigheid geniet, wanneer ek met Hom gedurende my oggendstappie en in die verkeer op pad werk toe gesels, word Hy deel van my lewe. Dís wat Hy die graagste wil hê – om my eerste liefde te wees. Hoe meer Hy die eerste plek in my lewe inneem, hoe meer sal my verhouding met Hom in diepte en intimiteit groei en hoe meer sal dit ‘n effek op my verhoudings en optrede hê.


Eers wanneer hierdie liefdevolle verhouding in plek en sterk is, is ek regtig toegerus om na die volgende stap oor te gaan en namens Hom liefde aan ander te betoon, naamlik om die tweede deel van die grootste gebod na te kom – om my naaste lief te hê soos myself. Eers nadat ek soos Maria by Jesus se voete gesit het, kan ek soos Martha ander gaan dien.


Dit was vir die Seun van God met Sy besige aardse bediening nodig om gereeld eers tyd saam met Sy Vader te spandeer. Dis ook vir my belangrik is om nie toe te laat dat die dringende sake die plek inneem van die belangrikste nie. Wanneer dit egter, soos in Jesus se geval, soms gebeur dat my tyd saam met Hom onderbreek word deur iemand of iets, wat aandag nodig het, kan ek soos Hy opstaan en met grasie en liefde gaan dien.


Terwyl ek toenemend besef hoe lief Hy my het, sal my liefde vir Hom groei, sal ek kan sê dat Hy my eerste liefde is.


“Only when you make Jesus Christ your first love, will you be ready for a love story that reflects His glory.” - Leslie Ludy

Comments


bottom of page