Is God nog aan die stuur van sake?
top of page

Is God nog aan die stuur van sake?


Stephan Joubert vra in hierdie Goeie Nuus of God nog aan die stuur van sake is?
Is God nog aan die stuur van sake?

“Hoekom gaan party mense dood aan Covid, maar ander mense oorleef?” “Het God hulle lewe se strepies getrek?” Hierdie tipe vrae is deesdae volop. Wel, daar is geen abstrakte gesprek aan die gang in die Bybel oor hoekom God die dood partykeer toelaat en ander kere nie. Of oor getrekte strepies nie. Deur die eeue heen het die kerk egter vasgeval in sulke gesprekke, wat rondom die Christendom afgespeel het oor die noodlot, voorsienigheid, en dies meer. Van toe af is gelowiges met vrae gekonfronteer, wat die Bybel glad nie leer of vra nie. Veral in die Nuwe Testament val die klem op ons geloofsverhouding met God, wat nooit deur die dood opgehef kan word nie. Hoor asseblief weer: die klem val nie hier op die sterfdatums van indiwidue nie, maar op Christus!


In die taal van Romeine 14 leef en sterf alle gelowiges in Christus. Hy is ons hoop wanneer ons lewe én wanneer ons sterf. Of die dood wreed, verwags of onverwags gebeur, dit is geen verleentheid vir God of skaakmat vir onsself nie. Die vraag van die Nuwe Testament is daarom nie of mense se strepies getrek is nie, maar of enigiets ons kan skei van God. Dit is dié vraag, wat ons moet vra. In Romeine 8:31 - 39 noem Paulus alle moontlike opsies op, wat die potensiaal het om dit te doen, soos vervolging, hongersnood, geweld en die dood. Sy antwoord is egter glashelder: Niks kan ons van God se liefde skei nie. As ons dit nie snap nie, gaan ons vasval in rasionele vrae en halfgebakte verklarings oor hoekom God sekere sterftes toelaat en andere nie. Of in clichés soos: ‘Toemaar, jy sal later verstaan.” Glo eerder Romeine 8 se geloofsverklaring: “Niks kan ons skei van die God se liefde in Christus nie.” O ja, dit geld ook vir hierdie wrede virus.

bottom of page