Is ek ‘n boom of ‘n bossie?
top of page

Is ek ‘n boom of ‘n bossie?


Alet Gardner skryf in haar nuutste artikel oor Psalm 1:3 en vra of jy ‘n boom of ‘n bossie is?
Is ek ‘n boom of ‘n bossie?

Dis vir my persoonlik belangrik om boek te hou (joernaal te hou) van dit wat God vir my in my stiltetyd (my tyd saam met Hom) leer. Ongelukkig gebeur dit so maklik dat daardie les in my joernaal bly lê en ek dit nie onthou in die hitte van ‘n toetsoomblik deur die loop van die dag nie. So het ek een oggend tydens ‘n heerlike tyd aan die Here se voete n.a.v. Efesiërs 3:17 in my joernaal aangeteken:


Psalm 1:3 – wees ‘n boom, wat by die water geplant is, wat sterk groei en vrugte dra op sy tyd.

  1. Dit het my herinner aan Jeremia 17:7 – 8: Dit gaan goed met die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom, wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

  2. Dit het my weer laat dink aan die oorvloedige lewe, waarvan Jesus in Johannes 10:10b praat: Ek het gekom dat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

  3. En dan die wonderlike belofte in Johannes 7:38: Met die een, wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.

Wat ‘n heerlike stuk toerusting om die dag mee in te gaan!


MAAR toe kom die toets wat my onkant betrap en ek vergeet alles, wat ek die oggend geleer én getrou in my joernaal aangeteken het. Ek beland in ‘n situasie, waar ek voel dat ek te na gekom is. Dit was eintlik ‘n relatief skadelose opmerking in ‘n familiesituasie, maar onkant betrap, het ek reageer soos Jeremia se woestynbossie, wat deur die geringste wind omgewaai word. Ek het soos ‘n tolbos al my houvas op die anker in Jesus verloor en ure lank met ‘n stuk seer in my hart geloop.


Die Here se trou is egter groter as my foute en die volgende oggend herinner Hy my via Oswald Chambers se boodskap vir die dag: “Fret not.” Ek kan mos elke dag kies om vanuit my identiteit in Christus te reageer en nie myself te “verlekker” in die onbillikheid en platgeslaan te word deur die skynbare liefdeloosheid van iemand se opmerking nie.


Wat ‘n waardevolle les was dit nie! Ek kon my klein geloof bely en weereens ‘n nuwe dag aanpak, soos wat Psalm 37:3 sê: Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. EN belangrike verhoudings het nie skade gely nie!


Paulus het natuurlik al hierdie dinge geweet toe hy vir die Efesiërs herinner het hoe belangrik dit is: “… dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.” Efesiërs 3:17


(Aanhalings uit 1983 Afrikaanse Vertaling)

bottom of page