• Roedolf Botha

Is daar ‘n voordeel aan swaarkry?


Vir bevoorregte, ryk mense, soos ons, wie se prentjie van God in mooi-weersdae gevorm is, bly dit maar moeilik om met lyding om te gaan. Swaarkry maak nou maar een maal nie vir ons sin nie. Dit strook nie vir ons met ‘n God van liefde nie, ten spyte van Jesus se versekeringe van swaarkry. Dis te verstane. Lyding kan skrikwekkend wees, wanneer dit jou in die oë staar. Dis waarom die evangelie van Jesus van ons ‘n kopskuif vra. Hierdie kopskuif klink soos malligheid in die oë van die wêreld.


‘n Fliek wat, weer hierdie drastiese kopskuif, te midde van lyding, op die voorgrond geplaas het, is Father Stu, met Mel Gibson en Mark Walhberg in die hoofrolle. Hierdie aangrypende en inspirerende rolprent vertel die ware verhaal van Stuart Long, ‘n hoopvolle sukkelaar, wat maar net nie sy eie lewe op dreef kan kry nie. Ek sê nie verniet “hoopvolle” nie, want dis nie dat hy nie probeer het nie. Hy het menige pogings aangewend om suksesvol te lewe, van ‘n bokser tot ‘n Hollywood-akteur. Niks wou egter uitwerk nie en selfs sy verhoudingswêreld was ‘n gemors. Sy boetie is oorlede toe hy jonk was en hy het geen verhouding met sy pa gehad nie. Hy was egter darem in gesprek met sy ma ... soort van. Alhoewel hy sonder God grootgeword het, begin hy, weens sy liefde vir ‘n meisie, toe die Christelike geloof ondersoek en laat homself later as Katoliek doop. Na ‘n diep geestelike ervaring besluit hy om ‘n priester te word en homself ernstiger aan God te verbind.


Eers tóé begin die moeilikheid werklik. Hy word gediagnoseer met ‘n ongeneeslike siekte en sy fisiese gestel gaan stelselmatig, maar vinnig agteruit. Eers kon hy nie verstaan dat God hierdie tragedie in sy lewe toelaat nie. Hy het egter bly groei in sy liefde vir Jesus en in sy geloofsvolwassenheid. Binnekort was dit duidelik dat Stuart vir die priesterdom uitgeknip was, want sy snelle groei in sy eie geloof en vertroue in die Here het veroorsaak dat hy intense teologiese diepte met geweldige lewenswysheid ontwikkel het. Intussen het sy fisiese lyding steeds teen ‘n toenemende tempo vererger. Op ‘n stadium sê hy tydens ‘n roerende seremonie vir sy vriende en familie die volgende woorde:


We shouldn’t pray for an easy life, but for the strength to endure a difficult one, because suffering is the fullest expression of God’s love. It’s a chance to be close to Christ.

Father Stu se familie het aanvanklik gedink dat hy besig is om gek te word. Wie, anders as ‘n mal mens, praat so?! So drasties soos wat hierdie woorde klink, is die klanke hiervan egter nie ver van die woorde van Paulus nie. Die apostel sê onder andere:


  • Voortdurend word ons, wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. (2 Kor 4:11)

  • Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. (2 Kor 4:16)

  • Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. Maar of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens en dit is om te lewe soos Hy dit wil. (2 Kor 5:8-9)


Paulus se punt is dat as Jesus die pyn van die kruis beleef het, ons ook pyn sal beleef. Vir iemand wat slegs een ding begeer, naamlik om naby Jesus te wees en één met Hom te voel, is lyding dus ‘n gawe. In ons eie lyding is ons so naby aan die gekruisigde Jesus as wat ons kan kom. Wanneer ons ly, identifiseer ons met Jesus in Sý lyding en Hy met ons. Dan word ons in ons belewenis met Hom verenig. Dan is ons na aan Jesus, nie net in ons verhouding met Hom nie, maar ook in ons eie persoonlike ervaring. Vir Paulus was dit ‘n groter voorreg as waarvoor hy kon vra.


In Father Stu se woorde:


It’s a chance to be close to Christ.