• Roedolf Botha

Hulle kon hom nie onderkry nie


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor Paulus en hoe hulle hom nie kon onderkry nie.
Hulle kon hom nie onderkry nie

Die krag, wat beskikbaar is vir iemand wat die evangelie van Jesus glo, wérklik glo, is regtig verstommend! Ek het onlangs ‘n vriend van my in die gemeente begrawe. Hy is dood weens Covid. Hy was iemand met ‘n merkwaardige geloof. Sy vrou vertel dat wanneer hulle voor groot uitdagings te staan gekom het, hy altyd in sy eenvoud aan Jesus vasgehou het. Wanneer dinge soms donker weens ‘n finansiële krisis donker gelyk het, dan kon hy in vertroue vasstaan. Wanneer hulle verhouding as gevolg van ‘n familiekuier, wat skeefgeloop het, spanning beleef het, dan het hy eenvoudig die partye gekontak en hulle bymekaar gebring, sodat die probleme uitgesorteer kon word. Wanneer iemand negatief gepraat het, het hy bloot die positiewe kant gestel.


Sy werkskollegas het getuig daarvan hoe hy altyd die moraal hoog gehou het. Hulle vertel hoe hulle altyd vir hom die moeilikste en mees dreinerende kliënte kon gee en dan het hy hulle eenvoudig met sy vreugde en liefde oorgewen. Verstaan een ding mooi: dis nie dat hierdie vriend van my maar net ‘n positiewe persoonlikheid gehad het nie. Sy geloof en optimisme oor die lewe het direk gevloei vanuit sy verhouding met God en navolgingskap van Jesus. Hy het die Bybel uiters ernstig geneem en God op Sy Woord geneem.


Natuurlik volg hy hierin nie slegs Jesus se voorbeeld nie, maar ook Paulus s’n. Dink net aan Paulus se lewe en herinner jouself aan ‘n paar voorbeelde:


  • Wanneer hy in die tronk gegooi word, dan skryf hy sy groot vreugdebrief van daar af. (Filippense)

  • Wanneer medegelowiges hom probeer ondermyn deur die evangelie met vals motiewe te verkondig, dan is Paulus se reaksie dat die evangelie ten minste darem verkondig word, al is dit met bymotiewe. (Fil 1:18)

  • Wanneer sy etniese status bedreig word, dan meen hy dis in elk geval weggooi goed in vergelyking met Jesus (Fil 3:7)

  • Wanneer hy met moontlike armoede gekonfronteer word, dan reken hy hy is tot alles in staat deur Jesus, wat hom sterk maak. (Fil 4:13)

  • Wanneer hy in die tronksel in Filippi voos geslaan en byna vermink word, dan sing hy lofliedere saam met sy vriend. (Hd 16:25)

  • Wanneer hy in Listra met klippe gegooi en vir dood agtergelaat word, dan staan hy maar net op, stof homself af, gaan terug en probeer weer. (Hd 14:20)

  • Wanneer hy bedreig word met die dood, dan meen hy dat sy sterwe eintlik wins sal wees. (Fil 1:21)

Niks kon hom onderkry nie. Sy enigste kwesbaarheid was sy liefde vir Jesus en sy besorgdheid oor die gemeentes.


Hoe het ons in Suid-Afrika nie sulke geloof nodig nie!


Sy manifes vir die harde kant van die lewe stel hom in staat om nie terneergedruk te wees nie, al word hy verdruk; om nie radeloos te wees nie, al raak hy oor raad verleë; hy glo vas dat hy nooit deur God verlaat sal word nie, al word hy vervolg; hy glo vasberade dat hy nie vernietig kan word nie, al word hy op die grond neergegooi. Hy glo vas dat, indien hy die lewe van Jesus wil sigbaar maak in hierdie stukkende wêreld, hy ook die dood van Jesus moet toelaat om gestalte te kry in sy lewe. (2 Korintiërs 4:8-10)


Pyn, ongemak en selfs dood is hanteerbaar, want Jesus het hierdie wêreld oorwin!