Hou op om die probleem te wees
top of page

Hou op om die probleem te wees


In hierdie Goeie Nuus help Stephan Joubert ons met "Hou op om die probleem te wees"
Hou op om die probleem te wees

Wat sou jy antwoord as iemand jou vra: “Wat is verkeerd met die wêreld vandag?” ’n Engelse koerant het blykbaar aan die begin van die vorige eeu ’n vraelys na ’n paar bekende outeurs uitgestuur. Hulle moes net hierdie een vraag beantwoord:

“What’s wrong with the world today?”

Toe sou die bekende skrywer en geestelike leier, G.K. Chesterton, geantwoord het:

“Dear Sir, I am. Yours, G.K. Chesterton.”

Ons is nie heeltemal seker of hy dit gesê het nie. Nogtans het Chesterton later ’n boek geskryf met die titel: “What’s wrong with the world?”


Verseker is dit maklik om “hulle” te blameer. Dit is “hulle” wat nie die Here dien nie. Dit is “hulle” wat te min van dit of te veel van dat doen. Nogtans is die probleem nie net “hulle” nie. As ons regtig verantwoordelik voor God wil leef, het ons die reg verbeur om gedurig die skuld na die res toe te verskuif. Dan is onsself heel eerste aanspreeklik voor Hom vir ons eie lewe. En dan is ons tweedens deel van die oplossing vir dit wat ons meen verkeerd is met die wêreld en met ander mense. Dan is ons nie langer deel van wat ek beskryf as daardie “NBS-kultuur” nie - daardie “naming, blaming and shaming”-kultuur. Ja, ons mag en moet ook verkeerde dinge aanspreek, maar ons moet heel eerste sorg dat ons eie lewenshuis voor die Here in orde is. Ons eie oog-balke moet eers verwyder word, voordat ons al die splinters in ander se oë raaksien.

bottom of page