Hoeveel is genoeg?
top of page

Hoeveel is genoeg?


Sommige mense (soos ek) eis darem heeltemal te veel van die lewe. Ek het nog altyd gewonder oor die eerste paar woorde van Psalm 23, naamlik Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Dis nie oor die Herder-gedeelte wat ek gewonder het nie, maar die “ek kom niks kort nie” – deel. Ek meen, ‘n mens kom tog nooit by die punt waar jy werklik niks meer nodig het nie.


Toe gaan kuier ek een naweek vir my Zoeloe-vriend in sy gehuggie in Zandspruit informele nedersetting. Daardie kuier het my ganse lewensperspektief geskuif. Thabo se woonplekkie was maar ‘n skamele sinkhuisie met slegs twee klein vertrekkies. Die een kamer dien as die kuierarea en kombuis. Dan is daar nog ‘n vertrekkie met ‘n dubbelbed, waarin hy, sy vrou en hulle twee seuntjies saam geslaap het. Tydens die verloop van die naweek sit ek op ‘n stadium in die kuierarea op ‘n tamatiekissie, terwyl Thabo vir ons koffie maak en toe merk ek dit op. Daar was geen versierings of foto’s teen die mure nie, behalwe een sinnetjie opgeplak wat eenvoudig gelui het:


I lack nothing.

Ek kon skaars my oë glo. Ek het gewoon in ‘n ryk voorstedelike buurt in ‘n vier- slaapkamer huis met ‘n hengse tuin. Thabo is ryker as ek. Hy kom niks kort nie, terwyl ek daagliks allerhande wense en begeertes gekoester het. Hy is ryker as ek, nie omdat hy meer as ek besit nie. Hy was ryker as ek, omdat hy gevoel het hy het genoeg om van te leef en te funksioneer as mens. Hy was tevrede met minder. Hy was baie meer realisties as ek oor die lewe. Hy het eenvoudig minder begeer as ek. Dit het my laat dink aan wat die Christenskrywer, GK Chesterton, gesê het:


There are two ways to get enough. One is to continue to accumulate more and more. The other is to desire less.

Dit lyk vir my dat die Here in ons behoeftes voorsien, nie deur al ons gemaklikhede en luukshede te bevredig nie, maar om ons tevrede te maak met wat ons het. Die Herder van Psalm 23 lei die skape na waters, waar daar rus is, na groen weivelde. Hierdie dinge verteenwoordig ‘n skaap se mees basiese behoeftes sonder veel luukshede. Tog sê die skrywer dat sy beker oorloop van guns.


Om dus te sê ek kom niks kort nie, is nie iets wat met my gebeur nie. Dit het niks te make met my balansstaat of eiendomsportefeulje nie. Dis ‘n lewenskeuse, wat ek maak. Die Here het niks teen rykdom nie, maar as ons gedurig meer sekuriteit, meer gemak, meer emosionele veiligheid begeer, dan mag ons dalk konstant ongelukkig wees, omdat ons nie kry wat ons wil hê nie. Wanneer ons onsself gedurig probeer oortuig dat ons “beter verdien”, dan raak ons later bitter, omdat ons byna nooit kry wat ons dink ons verdien nie.


Wanneer ons Jesus egter ernstig opneem wanneer Hy sê dat die jakkalse gate het en die voëls neste, maar Hy kan nie iewers Sy kop neerlê nie, dan word elke bord kos, wat ek ontvang, elke aand wat ek warm slaap, elke dag wat my gesin veilig is, vir my die grootste vreugde en kan ek met opregtheid sê:


Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.
bottom of page