Hoe skep leiers gesonde kulture?
top of page

Hoe skep leiers gesonde kulture?


Soos in ‘n vorige nuusbrief gesê, weet ons nou al teen hierdie tyd dat die skep van goeie kultuur deurslaggewend is vir goeie leierskap. By “goeie” kultuur, bedoel ek ‘n kultuur waar goedheid heers. Goeie leiers skep goeie kulture, wat bevorderlik is vir die groei van die gemeente of maatskappy. ‘n Kultuur van ‘n maatskappy is die oorsaak dat sekere dinge (goed of sleg) spontaan en natuurlik gebeur. Die kultuur is die soms ongeskrewe, narratiewe aksies, beginsels en beleide, wat in ‘n gemeenskap heers. Die kultuur dikteer altyd wat gebeur. Dis sterker as enige korttermynplan of -strategie.


Maar hoe presies, lyk ‘n goeie kultuur? Scot McKnight is ‘n bekwame en wydbekende Nuwe Testamentikus, wat ontsteld geraak het oor die toksiese kulture, wat in maatskappye en veral sommige gemeentes geskep word. Aangesien hy betrokke was by die Willow Creek-gemeente in die VSA, was hy ontnugter en ontsteld toe hy die ongesonde kultuur, wat gelei het tot die misbruik van vroulike werknemers, opgemerk het. Hy het toe gaan kyk na wat die Bybel leer, asook nagevors wat organisatoriese kulture ons van goeie kulture in gemeentes kan leer.


Ons praat dikwels van ‘n “great” gemeente, of ‘n oulike gemeente, of ‘n dinamiese organisasie, of ‘n groeiende gemeente. Maar hoe lyk ‘n goeie gemeente, wat aan die Bybelse standaarde van goedheid voldoen? McKnight het met sewe eienskappe vir goeie gemeentekulture vorendag gekom. Hierdie eienskappe is net so relevant vir besighede:

  1. Goeie kulture koester empatie. ‘n Leier met ‘n Christelike wêreldoriëntering verstaan dat die belangrikstes in die samelewing die armes, siekes en gemarginaliseerdes is. In ‘n gesonde kultuur word hierdie mense ‘n stem gegee en daar word na hulle geluister. Op hierdie manier kan ‘n gemeente ook kultuur weerstaan, wat gebou is rondom die narsissisme van sekere mense wat soms eis dat daar net na húlle geluister word. In ‘n meer sekulêre werksomgewing beteken dit eenvoudig dat daar na mense geluister word, van mense op bestuursvlak tot by mense wat skoonmaak.

  2. Goeie kulture koester genade. In ‘n maatskappy en selfs ‘n gemeente kan ‘n kultuur van vrees baie maklik oorneem. Mense is bang om foute te maak en loop op eiers, want hulle is bang vir hoe ander mense hulle gaan veroordeel, of wat die dominee gaan sê. ‘n Kultuur van genade beywer hom vir harde en effektiewe werk, maar die hoofnarratief, wat heers, is waar mense weet hulle sal met genade hanteer word.

  3. Goeie kulture plaas mense eerste. In groot organisasies of gemeentes kan mense baie maklik seerkry. Die rede is soms dat daar ‘n te groot klem op die instansie geplaas word, eerder as op die mense wat daar werk. Oorgeïnstitusionaliseerdheid kan slegs weerstaan word deur ‘n kopskuif te maak dat ménse die belangrikste deel van die liggaam is. Mense moet as ménse behandel word. Om nuwe mense gedurig te ontvang en met gasvryheid te behandel. Álle mense moet as ewe belangrik gesien word - élkeen is na die beeld van God gemaak. Hanteer alle mense soos familielede en ontwikkel Jesus se oë vir mense.

  4. Goeie kulture vertel die waarheid. Valse narratiewe en leuens kan slegs weerstaan word, wanneer daar ‘n onbesproke gewoonte by elke werknemer of gemeentelid bestaan om dinge te stel presies soos hulle dit sien. Mense moenie bang wees om dinge te sê nie, om die waarheid te praat nie. Almal moet weet dat hulle selfs die Hoof Uitvoerende Beampte (CEO), leier of dominee sonder vrees vir straf kan teregwys.

  5. Goeie kulture koester geregtigheid. Dis om altyd die regte ding te doen, ongeag wat die omstandighede of gevolge mag wees. Daar is geen blinde lojaliteit teenoor seker invloedryke mense of charismatiese leiers nie. Dit weerstaan juis ‘n blinde “lojaliteits”-kultuur. Die vraag wat gevra word is nooit wie gaan ongelukkig wees, of wie gaan bevorder word hierdeur nie, maar eerder: Wat is die regte menslike dinge om te doen, ongeag die gevolge.

  6. Goeie kulture koester diensbaarheid. Daar is slegs een manier waarop nederigheid gekweek word en dis om jou medemens, die minstes in die samelewing, te dien sonder enige verwagting van vergoeding of status. Dis die enigste manier waarop die celebrity-kultuur weerstaan kan word. In ‘n celebrity-kultuur word slegs sekere mense hoog geag. Dit word weerstaan deur van almal te verwag om dienaars te wees. Niemand moet bo nederige diens verhewe wees nie.

  7. Goeie kulture streef na Christus. Christus is die Bron en Oorsprong van alle goedheid en ook die ander punte, wat hier genoem word. Leiers moet dit weet. Selfs in meer sekulêre besigheidsomgewings, waar die bestuurder of leier nie sommer godsdiens kan inbring wanneer en hoe hy wil nie, moet Christene weet dat dit Jesus se liefde, lewe en waardes is wat hier uitgeleef word. Selfs al kan Jesus nie op die naam in elke sin genoem word nie, weet die leier(s) dat dit Jesus is na wie ons as maatskappy streef.


Wat doen jy wanneer jy die mees invloedryke persoon in die kamer is, wanneer jy die leier is? Ek weet nie wat ek sou doen nie, maar ek weet wat Jesus gedoen het toe hy alleen saam met sy dissipels was.


Hy het afgebuk en hulle voete gewas.


So ‘n kultuur kan net goed wees, baie goed.


bottom of page