Hoe reageer jy as jou wêreld geskud word?
top of page

Hoe reageer jy as jou wêreld geskud word?


In haar nuutste My Lewe nuusbrief, vra Helena Smith hoe reageer jy as jou wêreld geskud word?
Hoe reageer jy as jou wêreld geskud word?

In Julie vanjaar is die inperkingsmaatreëls verskerp, daar was proteste en plundery in Kwazulu Natal en Gauteng en boonop was dit yskoud in die meeste dele van die land. Dit was nie net die spreekwoordelike storm in 'n teekoppie nie, dit was érg! In 'n groot gedeelte van Pretoria was daar toe ook 'n kragonderbreking gedurende een van die koudste weke van die dekade. Toe ek 'n vriendin, wat ook deur die kragonderbreking geraak is, vra hoe dit gaan, was haar ongelooflike positiewe antwoord dat hulle nog so baie het om voor dankbaar te wees.


Onlangs lees ek die volgende analogie op Facebook: As jy 'n beker koffie vashou en iemand stamp aan jou, spat die koffie die hele wêreld vol. Hoekom het jy koffie gemors? "Iemand het teen my vasgeloop." Verkeerde antwoord. Jy het koffie gemors, want daar was koffie in jou beker. As daar tee in jou beker was, het die tee gemors. Wat ookal in jou beker is, sal uitspat as iemand teen jou stamp. As die storms van die lewe, wat onafwendbaar is, jou skud, sal wat ookal binne jou is, oorloop.


Nou moet ek myself afvra: wat is in my beker? Wat kom uit my beker as my wêreld geskud word? Kom daar dankbaarheid, vrede, vreugde en vergifnis uit my beker, of reageer ek met bitterheid, ontevredenheid en woede?


Hoe hou ek my beker vol van al die positiewe dinge? As jy kies om jou beker by Jesus, die bron van lewende water, vol te maak, sal daar vreugde, vergifnis en vriendelikheid uit jou beker kom. In Johannes 4:14 lees ons hoe Jesus vir die Samaritaanse vrou sê:

Wie egter van die water drink wat Ek vir hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water, wat Ek vir hom sal gee, sal 'n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.


Kies elke dag om naby aan Jesus te leef en vol vreugde en dankbaarheid te wees. Anthony D'Angelo sê: Bring altyd jou eie sonskyn, dit maak nie saak waarheen jy gaan of hoe die weer lyk nie.

bottom of page