Hiersonder kan géén leier lei nie
top of page

Hiersonder kan géén leier lei nie


Daar is inderdaad één onontbeerlike eienskap waaroor ‘n leier moet beskik om effektief te kan lei. In vorige briewe het ons gepraat van Gregory Berns se boek Iconoclast, waar hy veral praat oor drie karaktereienskappe van die mees effektiewe beïnvloeders in die geskiedenis. Eerstens het Berns gesê dat leiers realiteite letterlik anders sien en observeer as ander mense. Tweedens kan effektiewe leiers hulle eie vrees beheer en oorkom sodat hulle nie verlam word daardeur nie.


Daar is egter ‘n laaste en derde karaktereienskap waarsonder die eerste twee eienskappe byna geen effektiwiteit sal toon nie.


Berns dui die belangrikheid van hierdie mees fundamentele punt aan deur onder andere twee gewilde kunstenaars met mekaar te kontrasteer, naamlik Vincent van Gogh en Pablo Picasso. Van Gogh was ‘n uitmuntende skilder met fenomenale talent. Die tragedie van sy lewe was egter dat hy brandarm gesterf het omdat hy bitter min van sy eie kunswerk kon verkoop tydens sy eie leeftyd.


Picasso aan die ander kant, was ewe briljant – sommige sou dalk sê selfs méér as van Gogh. Picasso was egter skatryk gewees en het letterlik miljoene rande se kunswerke verkoop. Sy invloed in reikwydte was dus merkbaar baie hoër en meer as dié van van Gogh.


Wat het die verskil gemaak?


Kenners beweer dat dit eintlik hoofsaaklik gegaan het oor een saak naamlik, verhoudings. Picasso het baie vriende gehad en was uitermate connected aan ‘n wye verskeidenheid van sosiale netwerke. Hy het ‘n sekere sjarme gehad wat mense na hom toe kon aantrek en verskeie soorte mense het aangetoon dat hulle gemaklike interaksie met hom kon hê. Hy kon sinvolle verhoudingsverbindinge smee, bou en onderhou oor ‘n lang tydperk. Hy kon homself in ander mense se skoene plaas en aanvoel waar hulle hulleself emosioneel bevind. Dit het hom uiters effektief gemaak in die verkoop van sy kunswerke.


Met van Gogh was dit egter heel anders. Hy was ‘n emosioneel komplekse mens wat geweldig geworstel het met homself. Die effek daarvan was dat hy so selfbehep oorgekom het dat hy nie maklik met ander mense kon bande smee nie. Mense het hom as moeilik, nors en selfs versteurd beleef. Die hartseer saak is dat van Gogh egter so baie talent gehad het en soveel gehad het om mense te bied op die gebied van die skilderkuns. Die meeste van daardie potensiaal het egter verlore gegaan in sy eie tyd vanweë sy eie gebrek aan menslike insig en sy vermoë om te connect. Hy het gesukkel om mense lief te hê.


Verhoudings is die kanaal waardeur ‘n leier se invloed vloei. Dis die brug tussen ‘n goeie, rewolusionêre idee van ‘n leier, en die publiek se aanvaarding van so ‘n idee. ‘n Nuwe nuttige uitvindsel, gedagte of strategie kan geen goeie positiewe vrug lewer indien ‘n kritiese massa van mense dit nie aanvaar nie. Met ander woorde, indien ‘n leier die idee nie kan verkoop nie, is sy insigte en ander vaardighede eintlik waardeloos. G’n wonder dat futuroloë al ‘n hele rukkie gelede beweer het dat verhoudingsintelligense die één bepalende faktor vir sukses gaan wees vir die volgende paar jaar. Daarby is dit ook interessant dat Paulus in die baie bekende 1 Korintiërs 13:1-7 beweer dat al ons gawes en vaardighede ons – sowel as vir ander mense – niks help sonder liefde nie.


Leiers, ons moet dus hemel en Aarde omkeer om te probeer om van harte lief te hê, te connect, diep te luister, die minstens in die samelewing raak te sien en te waardeer terwyl ons ‘n verskil maak.


Anders mag die verskil wat ons maak dalk nie so groot wees as wat ons dink nie...

bottom of page