Hier lê iemand wat groot potensiaal gehad het…
top of page

Hier lê iemand wat groot potensiaal gehad het…


“Happiness is about living the story you also want to read about.”

Toe ek dit nou die dag kwyt raak op Twitter, het ek na die tyd vir ’n oomblik gewonder of ek met myself saamstem (🤭!) Dit het vir ’n oomblik al te veel geklink na een of ander ”sweet nothing.” Maar toe dink ek by myself: ek probeer elke dag om op so ’n manier in die Heer se Naam te leef dat my lewe sin en betekenis het. Ook probeer ek so leef dat dit iewers ’n goeie verskil maak. Niemand van ons wil tog ’n nuttelose lewe leef nie. Ons wil nie hê mense moet na ons dood op ons grafstene iets skryf soos: “Hier lê iemand wat lewenslank groot potensiaal gehad het" nie.


Potensiaal help jou net mooi niks as jy die dag dood is nie. Dit moet omskep word in die regte woorde, dade en leefwyse. Boonop moet dit so gou as moontlik gebeur. Jy kan nie jou ganse lewe deurbring met ’n klomp onontginde potensiaal op jou naam nie. Hoe aktiveer jy dit? Dit begin gebeur wanneer jy agterkom wat daardie een of twee talente is, wat God spesifiek aan jou gegee het. Dit begin wanneer jy dit reg gebruik. Terloops, jy het regtig ’n paar talente by die Here ontvang, soos wat 1 Korintiërs 12, Romeine 12, Efesiërs 4 en 1 Petrus 4 jou leer. Nie een van God se kinders is hiermee oorgeslaan nie. Jy ook nie. Jy moet maar net ontdek watter geestelike geskenke God by jou lewensdeur neergesit het. Dan moet jy dit reg gebruik. Doen dit volgens die gebruikersinstruksies, wat ook in hierdie tekste deurgegee word. As jy byvoorbeeld die gawe ontvang het om leiding te neem, doen dit dan om God se glorie te weerspieël. As dit jou gawe is om te preek, te skryf, ander op te bou, administrasie te doen, kunstig te wees, tegnies vaardig te wees, noem maar op, doen dit dan, maar doen dit ook om ander mense in hulle geloof op te bou! Leef jou potensiaal elke dag effektief vir God uit en tot voordeel van ander. Dan leef jy die regte storie uit, daardie een waarin die Here al die eer kry.

bottom of page