Hier is twee dinge wat God vir ewig onthou oor jou
top of page

Hier is twee dinge wat God vir ewig onthou oor jou


God onthou, maar Hy onthou nie alles oor ons nie. Dit het ons in verlede week se Goeie Nuus vir mekaar gesê. Met name kies Hy om nie daardie sondes te onthou wat in Jesus se Naam by Sy voete neergesit is nie. Maar dit beteken nie God is vergeetagtig wat ander dinge betref nie. Hy het ’n langtermyngeheue. Hy onthou alles, wat Hy wil onthou, vir ewig. In die Bybel leer ek dat daar ten minste twee dinge is wat God tot in ewigheid oor ons onthou. Die eerste ding is dat Hy vir altyd sal onthou om ons as Sy kinders styf vas te hou in Sy eie hand. Jesus sê in Johannes 10:28-30 dat Hyself vir al Sy skape die ewige lewe gee en dat niemand ons ooit uit Sy hand sal ruk nie. Dan voeg Hy by dat niemand ons ooit uit God se hand sal wegruk nie. God onthou ons nie net vir ewig nie - Hy hou ons ook vas vir ewig! Mooi, né!


Daar’s ’n tweede ding wat God nooit van ons sal vergeet nie. Hy onthou elke goeie daad, wat ons in Sy Naam doen. In Matteus 10:42 sê Jesus dat as ons vir een van Sy knegte ’n beker koue water gee, sal God dit onthou en dit terugbetaal. In Lukas 14:14 leer Jesus dieselfde. Hy sê hier dat as jy die armes, kreupeles, verlamdes en blindes uitnooi na ’n feesmaal, dan sal God dit vir altyd onthou. Hy sal mense wat dit doen, hiervoor eer op die laaste dag. Hy sal hulle oorspoel met Sy ewige goedheid. God het ’n langtermyngeheue vir daardie goeie dade, wat ons doen in Jesus se Naam. Elke beker koue water; elke daad van liefde, hoe klein ook al, word deur God raakgesien … en onthou! Doen dit. Dien ander mense. Dan is daar sommer baie dinge, waaroor die Here jou vir ewig sal onthou.

bottom of page