Het jy Herdersklere in jou kas?
top of page

Het jy Herdersklere in jou kas?


Die woorde van Psalm 23 gryp nog altyd aan die hart. Ek glo volkome in die woorde. Die Here is waarlik my herder. Hy versorg my. Soek vir my weivelde. Hy lei my na waters waar daar rus en vrede is. Hierdie herder beskerm en bewaar my van gevaar. Hy is met my elke oomblik.

In hierdie vreemde tyd waarin ons lewe op die oomblik, voel ek die Here se versorging nog meer intens. Ek hou daarvan om by die huis te wees. Ek geniet elke oomblik daarvan. Ek doen so baie dinge wat vir my lekker en opbouend is of waarvoor ek nie eintlik tyd het as ek werk nie. Ek bak brood en probeer nuwe resepte. Ons gesels baie, leer baie, doen Bybelstudie en luister na preke.

In hierdie tyd van afsondering mag ons nooit vergeet om ook vir ander om te gee of te versorg nie. Dit kan so maklik gedoen word. Ek myself probeer om daagliks iemand te bel wat ek ken. Ons almal ken mense wat alleen of eensaam is. 'n Oproep kan iemand se eensaamheid laat wyk. Daardie persoon kan voel dat daar werklik mense is wat nog omgee. Luister fyn na jou vriende wat jy bel sodat jy tussen die lyne kan lees en weet waarvoor om te bid vir hulle. 'n Bemoedigende woord van omgee is dalk al wat iemand nodig het.

Die grootste geskenk wat jy aan iemand kan gee, is om te bid. Bid vir 'n vriend, vriendin of familielid. Vergeet van jou eie behoeftes en plaas iemand anders op die voorgrond van jou gebede. Bid onselfsugtig vir die swaar van ander. Pleit by die Here vir siekes en mense wat swaarkry. Op hierdie manier versorg jy iemand al is hulle nie in jou fisiese teenwoordigheid nie. Word jy iemand se herder., soek vrede vir iemand in die Here. Bid vir mense wat van die Here vergeet het sodat hulle hom weer sal vind. Maak iemand se stormwaters kalm.

'n Vriendin van my hang elke dag 'n sakkie kos aan die boom van haar voortuin met 'n mooi boodskap. In haar eie oorvloed deel sy met mense wat self nie baie het nie. Dis eintlik so maklik. SMS jou bure en hoor of hulle nie iets van die winkel of apteek nodig het nie. So 'n klein dingetjie maak aan iemand anders se lewe 'n reuse verskil.

Koronatyd is sinoniem met afsondering en swaar. Ons is alleen, sien nie ons vriende nie, verlang na ons kosbare ouers en kinders. Maar ons kan 'n verskil maak. Ons kan die fokus van onsself verskuif na die van geliefdes, vriende en vreemdelinge!

Die Here is my herder, ook in hierdie Koronatyd. Maar meer nog, ek en jy is Sy hande, voete en versorgers van die weerloses en mense wat ly. Haal jou herdersklere uit die kas, trek dit aan en lei mense na waters waar daar rus en vrede is.

bottom of page