• Roedolf Botha

Hardloop 2022 só dat jy wén!


Soos baie van ons het ek ook tydens die Desembervakansie ‘n nuwe reeks op Netflix ge-“binge watch”! Somtyds hou ek daarvan om my in te grawe in iets, ‘n nuwe reeks, wat my iets leer van ‘n arena van die lewe, waarvan ek tot nou toe bitter min geweet het. Een so ‘n nuwe wêreld, wat ek nuut ontdek het, was Formule 1-motorresies. Alhoewel ek nog nooit eintlik vreeslik in karre belanggestel het nie, het my seun en skoonseun so aangehou dat ek dit moet kyk, dat ek uiteindelik handdoek ingegooi het en die avontuur aangepak het. Ek moet bely dat die gogga my een- en ‘n halwe episodes in die eerste seisoen in gebyt het! Toe kyk ek al drie seisoene, wat tans beskikbaar is, in twee weke! Ek is sekerlik steeds maar ‘n groentjie, wat nie veel weet in vergelyking met ander Formule 1-junkies nie, maar ek is beslis nou ‘n entoesias. Ewe skielik ken ek name, soos Max Verstappen, Lewis Hamilton, Sergio Perez, Carlos Sainz en Daniel Ricciardo! Voorheen het ek net geweet van Ferarri en Mercedes, maar nou weet ek darem van Red Bull, McLaren, Aston Martin en Alpine ook.


Terwyl ek die reekse gekyk het, kon ek nie help om verskeie waarnemings te maak nie. Die mees opvallende is die verskillende spanne en renjaers se gedrewenheid om te wén, om nommer één te wees! Letterlik al die mense, geld, energie en bronne van elke span is soos ‘n laser gefokus om die topprestasie te behaal, om te wén. Om hierdie rede is die kompetisiegees enorm hoog, dikwels tot op die punt van ongesonde obsessie. Een van Mercedes se renjaers, Valtteri Bottas, sê eenkeer vir die kamera: “I háte to be second!”


In die lig van hierdie obsessie om te wen is dit egter interessant dat Paulus soortgelyke taal gebruik, wanneer hy praat oor sy eie geestelike lewe en gefokusde gedrewenheid om te groei en om soveel mense moontlik vir Christus te wen! In 1 Korintiërs 9:24 sê hy:


Weet julle nie dat atlete, wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.


Die mense van Korinte het presies geweet waarvan hy praat. In hulle stad was die groot tweejaarlikse obsessie die Isthmiese Spele. Hier het die gespierde en fikse helde van die Grieks-Romeinse wêreld meegeding, terwyl skares hulle toegejuig en aangemoedig het. Almal het geweet hoe obsessief hierdie atlete was om te wen. Dis juis waarom Paulus die beeld gebruik. Hy sê later in vers 25 hulle ding mee om ‘n verganklike prys, maar ons as gelowiges om ‘n onverganklike prys. Hy wil sê dat om vir Christus te leef, die enigste eerbare obsessie is! Dis die enigste omvattende lewensdoel, wat nie kan ontaard in afgodediens nie, maar wat sal lei tot ryker lewe en groter beloning. Om enige iets anders jou obsessie te maak, is afgodery. Daarom moet ons vir Christus hardloop met dieselfde moeite, passie en energie as wat gewone atlete sou verbrand, wanneer hulle mik vir eerste prys! Die punt is nie dat elkeen moet trap op ander om bo uit te kom nie. Paulus se punt is eerder dat, wanneer jy net hardloop om klaar te maak, jy nie naastenby so hard oefen as wanneer jy mik vir die eerste prys nie. Lewe dus jou lewe voluit in Jesus met sulke gefokusde intensiteit, asof jy nie tevrede sal wees met enige ander posisie as eerste prys nie. Die prys, waarvan Paulus hier praat, is natuurlik nie die ewige lewe nie, maar veel eerder volwassenheid in Christus, asook die wen van mense vir die koninkryk. Dis om, soos Jesus, niks minder te gee as jou lewe op Golgota nie. Jesus het nie gemik vir tweede plek nie, maar het die eerste plek in die heelal ingeneem, omdat Hy die hoogste prys met die duurste soort liefde betaal het!


Soveel Christene leef egter so flouerig asof hulle rustig tevrede is met tweede plek. Geen energie, geen motivering, geen intensiteit nie, maar halfhartige poginkies, wat nie veel vra nie. Hulle doen nie moeite met die Woord nie, maar leef slordig en eet heeldag geestelike roomys. Hulle liefde vir hulle medemens is maar net soos die volgende persoon s’n en hulle gebedslewens is afgestomp en kragteloos. Dit beteken nie dat ons nie meer God se kinders is nie. Nee, God se genade bedek ons juis wanneer ons swak is. Dit beteken net dat ons nie maksimale impak maak nie.


Dink net hoe anders sou die kerk of die land gelyk het as al die Jesus-volgelinge gesê het:


“Ek haat tweede plek!”