Hanteer die Bybel met respek
top of page

Hanteer die Bybel met respek


Bybelverse, wat uit konteks aangehaal word, kry dikwels ’n lewe van hulle eie. Dit gebeur deesdae met tekste soos Genesis 12:3, waar die Here vir Abraham sê Hy sal diegene seën wat hom seën, en diegene vervloek, wat hom vervloek. Sedert die uitbreek van die oorlog in Gasa word hierdie woorde blindelings deur sommiges aangewend om te sê God sal almal straf wat teen Israel in opstand is. Nooit word die tweede gedeelte van vers 3 egter deur sulke strafbrigades aangehaal nie. Hierdie tweede gedeelte van vers 3 sê dat al die nasies van die aarde deur God se verbond met Abraham geseën sal word. Paulus het dit goed geweet. Daarom skryf hy in Romeine 4: 9-12 dat almal, wat in Christus glo, nou ook aan Abraham se beloftes deel het. Abraham is nou die vader van geloof vir mense uit alle volke.


Mag die Here gee dat ons Sy Woord reg en verantwoordelik in hierdie dae sal lees. Mag ons ook begryp dat Sy nuwe volk internasionaal is, net soos Sy beloftes. Sy mense is lankal nie meer aan een land of een grondgebied verbonde nie. Hoor net hoe beskryf Paulus dit in Galasiërs  3:28 (NNT Vertaling): “In hierdie nuwe familie van God is almal gelyk. Hier maak dit nie meer saak of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf is, of iemand, wat losgekoop is uit slawerny nie. En of jy ’n man is, of ’n vrou nie. Julle almal is nou een in Christus Jesus. Julle behoort aan Hom en aan mekaar.”

bottom of page