Goeie raad vir moeilike tye
top of page

Goeie raad vir moeilike tye


Die beste raad is gewoonlik die eenvoudigste. My oorlede skoonpa was iemand, wat goeie, wyse raad kon uitdeel. Stil, diepdenkend, empaties en wys. My vrou vertel dat toe sy nog by hulle in die huis was en soms moeilike tye in die oë gestaar het, hy dikwels eenvoudig vir haar gesê het:


“My kind, onthou net, this too shall pass.”

Die Bybel vergelyk gereeld moeilike tye met geboortepyne. In Romeine 8:18 skryf Paulus:


Ek is daarvan oortuig dat die lyding, wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid, wat God vir ons in die toekoms gaan laat aanbreek nie.

Dan sê hy in 8:22 dat die ganse skepping tans sug in die pyne van verwagting. Hy gebruik die taal van geboorte. ‘n Vrou, wat geboorte gee, druk deur die pyn van die oomblik, want sy weet dat dit net tydelik is en dat sy daarna groot vreugde gaan hê weens die nuwe kleintjie in haar lewe. Moeilike tye, pyn en lyding werk altyd so. Pyn is altyd tydelik. Dis vlietend. Dit gaan verby. Dis Paulus se punt.

Dis ook Jesus se punt, wanneer Hy in Johannes 16:21-22 sê:


'n Vrou kry swaar, wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.

Die dissipels was ontsteld, omdat Jesus gesê het Hy gaan weg, maar Hy het geweet dat hulle weer bly sou wees, wanneer hulle Hom sien na Sy opstanding. Jesus se punt is egter ook dat die ganse menslike verhaal deur hierdie metafoor van geboorte weerspieël word. Ons leef nou in die meer pynlike deel van die geskiedenis. Alhoewel ons tans ekstatiese blydskap in die Here kan beleef, sal ons egter ook droefheid beleef. Hierdie droefheid is egter nie finaal nie. Hierna kom die Here terug en sal ons droefheid in volkome en permanente blydskap verander.


Hierdie patroon word egter ook op ‘ n klein skaal in ons daaglikse droefheid en in die pynlike verrassings, wat die lewe ons dikwels toeslinger, gereflekteer. Pyn en droefheid sal nooit die laaste sê hê nie.


Na donker kom lig. Na nag kom dag. Na Vrydag kom Sondag. Na Kruis kom opstanding. Na volharding kom wederkoms.


Jesus self het dit uitgeleef deur op die kruis van Golgota af te stuur. Hy het geweet dat opstanding vir Hom wag, nadat Hy die dood verduur het.


Die volgende keer, wanneer jy dus in verdrukking verkeer, herinner jouself aan my skoonpa se woorde. Dit getuig van diep teologiese insig en praktiese wysheid.


This too shall pass.

bottom of page