Goeie leiers speel nie altyd veilig
top of page

Goeie leiers speel nie altyd veilig


In hierdie Leier Nuusbrief skryf Roedolf Botha en Ivor Swartz oor goeie leiers speel nie altyd veilig nie.
Goeie leiers speel nie altyd veilig

Een van die beste leiers, met wie ek al ooit saamgewerk het, is Johnny Knell. Johnny is vyftien jaar gelede deur my genader om ons hoërskooljeug voltyds te lei in die gemeente, waar ek toe werksaam was. Hy was ‘n ongeslypte diamant en eintlik ‘n redelike risiko om aan te stel, veral aangesien Johnny op daardie stadium nog maar ses maande lank ‘n Jesus-volgeling was. Voor sy reis saam met Jesus begin het, was hy deel van die bendewêreld aan die Wesrand. Ek het egter die verskillende opsies en faktore mooi oorweeg en besluit om die risiko te neem en hom aan te stel. Johnny was seker een van die beste aanstellings, wat ek nog ooit gemaak het. Hy was loshande die beste leier met wie ek nog saamgewerk het. Sy vermoë om sy eie mense – personeel sowel as jeug – saam met hom op ‘n dinamiese reis van geestelike transformasie te neem, was inspirerend! Die manier waarop Johnny spanne kon bou, vir sy mense kon veg en hulle kon motiveer, was ‘n fees om te aanskou! Nadat ek weg is by daardie spesifieke gemeente, het Johnny ook bedank en nog twee onafhanklike gemeentes van nuuts af begin en met groot sukses laat groei. Daarna het hy die kerkwêreld verlaat en homself begewe in die restaurantbedryf. Ook hier vaar Johnny vandag nog uitstekend. Sy besighede het selfs die Covid-19 grendeltyd oorleef en weer goeie momentum opgetel. Tydens die grendeltyd het hy verskeie hawelose mense gehuisves en vir hulle kos gegee en hulle aan Jesus bekendgestel. Ek en Johnny het deur al die jare kontak behou. Tydens ons laaste ete vra ek hom waarom hy die kerk verlaat het en wat kerkleiers kan doen om die missie van Jesus beter uit te leef. Sy antwoord was eenvoudig dat die kerk te veilig wil speel. Hy deel toe met my hoe die kerk – in die spesifieke omgewing waar Johnny woon – so min vir ander mense tydens die grendeltyd gedoen het. Dis trouens die rede waarom hy vir mense vanuit sy restaurant begin kos voorsien het: omdat hy gevoel het die klomp gemeentes in sy omgewing doen min van waarde. Hulle het net gehelp indien dit vir hulle die minimum ongemak of risiko veroorsaak het. Hulle het veel eerder gekies om hulle mooi geboue op te pas, hulleself van moontlike infeksie te bewaar, in plaas daarvan om mense op straat te help. Die kerk het te veilig gespeel tydens grendeltyd. Hy vertel my hoe die rugbyafrigter, wat hy op skool gehad het, altyd aan hulle verduidelik het dat jy jouself beseer wanneer jy te “sag” speel. Wanneer jy egter “hard” speel, dan vrywaar jy jouself tot ‘n groter mate van beserings. Hy sluit af deur vir my te sê: Roedolf, when we play it safe, we lose the game. Is dit nie wat Jesus bedoel wanneer Hy sê dat ons onsself moet verloën, ons kruis moet opneem en Hom volg nie? Jesus-volgelinge is mense op pad na die kruis. Ons is op pad om te sterf. Ons is almal dead men (and women) walking! Wat sal dit sê van die taak van geestelike leiers? Moet ons nie juis mense na die kruis lei nie? Moet leiers nie juis ander Jesus-volgelinge leer hoe om te sterf nie? Moet ons nie juis aan ons gemeentelede voorberei om grense oor te steek, dwelmverslaafdes in te neem, armes te bevriend, oordadig vrygewig te wees en te help en ons eie vrese te trotseer nie? Veiligspeel is nie goed vir die kerk nie, want:

  1. Die uitleef van die missie van Jesus vra vir die neem van risiko’s.

  2. Wanneer ons veilig speel, verloor ons soms goeie geleenthede, omdat ons eers die tyd wil neem om dinge te ooranaliseer. Teen die tyd wat die analise van die omstandighede afgehandel is, is die geleentheid ook dikwels daarmee heen.

  3. Wanneer ons veilig speel, kan dinge later polities raak, omdat ons ‘n kultuur skep, waar elkeen bloot vir homself / haarself probeer keer.

  4. Wanneer ons veilig speel, verloor ons die rol wat die kruis in dissipelskap sowel as leierskap behoort te speel.

When we play it safe, we lose the game. Jesus het dit besef. Hy het nie vir ons vergifnis verdien deur dit veilig te speel nie. Hy het egter sy dissipels ook so geleer en gelei. Dis deel van wat dit impliseer, wanneer Jesus sê: Volg My.

bottom of page