Goeie gewoontes is ... wel, goed!
top of page

Goeie gewoontes is ... wel, goed!


Eugene Peterson het altyd gesê dat God Homself primêr deur middel van drie agente openbaar, naamlik die skepping, die geskiedenis en gemeenskap tussen mense. Laasgenoemde is natuurlik nie slegs mense, wat tans lewe nie, maar ook mense in die geskiedenis. God openbaar Homself deur Sy mense en so ook Sy historiese kerk. Onlangs is ek weer so aangespreek, hierdie keer deur die historiese figuur van William Wilberforce. Hy is veral by ons daarvoor bekend dat hy uiters instrumenteel was in die afskaffing van die slawehandel in die tyd van die Britse Ryk. Sy joernale en persoonlike aantekeninge is egter eers onlangs vir die eerste keer gepubliseer. Wanneer ‘n mens dit lees, dan sien jy baie vinnig dat hierdie jarelange stryd teen die slawehandel geensins vir hom ‘n politiese saak was nie, maar wel ‘n geestelike een.


Wilberforce was uitverkoop aan Jesus - sy eie persoonlike geestelike groei was vir hom van absolute belang, eintlik ‘n obsessie. Dis seker die enigste gesonde obsessie, wat ‘n mens mag hê. Soos enige iemand, wat geestelik groei, het Wilberforce gesonde geestelike gewoontes gehad, wat hy daagliks beoefen het. Hierdie gewoontes het hom gehelp om bewus te bly van God se liefdevolle teenwoordigheid in sy lewe. Dit het hom gehelp om bewus te bly van die geestelike realiteit, waarbinne hy elke dag lewe, en om sy ou lewe elke dag opnuut neer te lê en die nuwe lewe in Jesus daagliks op te tel.


Geestelike gewoontes moet nooit die doel op sigself word nie. Ek onthou, toe ek jonger was, was die hou van gereelde “stiltetyd” amper ‘n geestelike wet van Mede en Perse. Jou ganse geestelike lewe is gemeet aan hoe gereeld jy jouself hieraan hou. Gelukkig kon ek later leer dat sulke gewoontes nie gaan oor die gewoontes self nie, maar oor my verhouding met Jesus. Ek bid nie sodat ek kan bid nie. Ek bid sodat ek my verhouding met die Here voed. Ek sonder myself af sodat ek kan toeneem in my liefde vir God en mense, om my liefde vir God uit te druk. Daarom was Wilberforce se gesonde obsessie om dieper en verder met die Here te wandel en Hom dieper te beleef. Om dié doel te bereik, het hy ‘n daaglikse gewoonte gehad om ‘n lysie van sewe dinge te maak:


1. Die hoofpunte, waar Hy God se genade spesiaal raakgesien het in sy dag

2. Die hoofmomente, waar hy God se voorsiening beleef het

3. Elke dag se moeilikhede en oomblikke, wat vir hom swaar was

4. Die euwels, handelinge van mense of sommer net tragedies, wat hy waargeneem het deur die loop van die dag

5. Die hoofversoekings, wat hy aan sy eie vel gevoel het hom aanhits in die rigting van sondige optrede

6. Waar hy gefaal het en vir die versoekings geval het

7. Praktiese dinge, bo en behalwe belydenis en die aanvaarding van die genade van die kruis, wat hy kan doen om môre beter te vaar


Miskien help hierdie paar gedagtes jou ook om te groei en oorwinning te behaal oor die vernietigende mag van sonde. Dit klink dalk vir baie mense na baie werk. Hierdie lysie maak egter slegs sin, indien dit beleef word binne-in die genade-oseaan van God se liefde, wat vir ons op Golgota uitgestort is. Sy genade is die sambreel oor ons lewe. William Wilberforce is dus hierdeur en deur die allesoorheersende begeerte om God lief te hê met sy lewe, gedryf. Dít was sy obsessie.


Here, dankie vir U getroue dienaars in die geskiedenis, wat ons inspireer om U beter lief te hê!

bottom of page