Godsdienstige kontroleurs moet uit die pad staan
top of page

Godsdienstige kontroleurs moet uit die pad staan



Paulus se woorde in 1 Korintiërs 14 oor die gawes word dikwels verkeerd gebruik om alle vorme van spontaniteit in die kerk aan bande te lê. Een of ander diepgewortelde behoefte aan kerklike beheer verander geestelike leiers op te veel plekke in geestelike polisiemanne, wat eksklusief wil besluit wie’s in en wie’s uit en wat’s reg en verkeerd. Nou ja, natuurlik moet sonde by die kerklike hekke gestuit word, soos wat Paulus in Handelinge 20 vra. Maar dit gebeur altyd by wyse van verhoudings en verhoudings is dikwels chaoties en onvoorspelbaar. As ons nie ook midde in hierdie chaos by mense in hulle stukkendheid teenwoordig is nie, kan die Here se genade nie die regte lewe ontmoet om chaos met heilige chaos te vervang nie!


Kerklike versorging gebeur verhoudinggewys, volgens Jesus in Matteus 18. As jy nie iemand se probleme of foute persoonlik met hom of haar bespreek het nie, kan jy dit nooit op ‘n onpersoonlike wyse reguleer nie. Om almal in die kerk te wil forseer om soos ‘n klein groepie te dink en op te tree, is om die vryheid van die Gees, wat met heilige chaos gepaard gaan, in voorspelbare strukture in te forseer. Onthou, die Gees is soos wind. ‘n Mens kan nie Sy Wind beheer of inperk nie. Daarom moet daardie kontrolebeheptes, wat mense in die kerk wil beheer, uit die Gees se pad staan. Hulle het lank genoeg Sy werk in die kerk ingeperk.


Gebed:

Maak my vry van alle behoeftes om mense te probeer beheer, Here. Amen.

bottom of page