Goddelike hulp
top of page

Goddelike hulp


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel oor Christenskap wat nie jou lewe verander met die swaai van 'n towerstaf in 'n maklike opsie nie.
Goddelike hulp

Christenskap verander nie jou lewe met die swaai van ‘n towerstaf in ‘n maklike opsie nie. As jy dink dat die Gees se inwoning in jou lewe bedoel is om dit vir jou probleemloos en veilig te maak om die Here te dien, dan mis jy die punt. Dít doen Hy beslis nie. Inteendeel, die Gees gaan jou dalk nog op plekke bring, waar jy nie wil wees nie, soos Petrus en die ander apostels, wat in die tronk beland het, omdat hulle openlik oor Jesus praat.


Die goeie nuus in swaarkrytye is dat daar altyd hemelse uitkoms vir alle Gees-knegte is. Dink byvoorbeeld aan die engel, wat by die apostels opdaag met ‘n hemelse loper om die tronkdeure vir hulle oop te sluit. Sjoe, wat ‘n Goddelike ontsnapping! God stuur soms sy hemelse werkers om sy boodskappers te kom haal. Wag egter net voordat jy dink dat hulle ontsnap na veiligheid, soos wat meeste mense doen, wat uit tronke ontsnap. Petrus-hulle “ontsnap” toe netjies terug by die leeu se bek in. God laat hulle toe nie padgee nie. Nee, volgens vers 20 stuur Hy hulle presies terug vanwaar hulle gekom het – na die tempelplein om weer te doen, wat hulle tot nog toe gedoen het. Hulle moes verder oor Jesus gaan praat. Geesvervuldheid is nie vir lafaards nie. Dink daarom mooi voordat jy Hom vra om jou vandag te vervul.


Gebed:

Heer, gee dat ek gehoorsaam aan u Gees se leiding sal wees, al kos dit my eie veiligheid. Amen.


bottom of page