God se amptelike stempel
top of page

God se amptelike stempel


Ons is God se amptelike stempel. Lees wat Stephan Joubert Joubert hieroor skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel.
God se amptelike stempel

Paulus gebruik ‘n merkwaardige beeld of twee vir die Heilige Gees hier in 2 Korintiërs 1:22 en later ook in Efesiërs 1:13 - 14. Die beeld van ‘n seël, wat die apostel eerstens aanroer, hou verband met die seëls of stempels van hooggeplaastes, soos goewerneurs of die keiser, wat in Paulus se dag op amptelike dokumente geplaas is. Watter belangrike boodskap dra dit aan ons oor? Ja, natuurlik vertel dit dat ons beseëldes van die Here self is. God waarborg self die egtheid van Sy genadewerke in ons lewens deur die Heilige Gees. Om te dink dat God ons nou so hoog ag dat Hy Sy amptelike seël op ons elkeen plaas, wat in Sy Seun as Heer glo! Dit is vir my veels te groot om te begryp.


Hierdie beseëling deur die Gees is nie een of ander teken aan ons liggaam nie. Nee, dis die inwoning van die Gees Self in ons. Hyself waarborg God se werke in ons. Hy is die teken van egtheid. Presies soos wat een of ander belangrike persoon se seël daar in Paulus se tyd bevestig het dat ‘n dokument eg is, bevestig die Gees dat ons die ware Jakob is. Hy onderstreep dat die Here ons gered het. Hy roep oor en oor hier in ons binneste uit dat ons God se kosbare eiendom is. Hy bind ons met bande van liefde aan ons Hemelse Vader.


Gebed:

Dat U my beseël het as eiendom van God, is te groot vir my begrip, o Gees van Christus. Ek eer U in verwondering. Amen.

bottom of page