God onthou regtig nie alles oor jou nie
top of page

God onthou regtig nie alles oor jou nie


Wanneer sommige mense te na gekom word, roep hulle graag vir God tot getuie dat Hy die skuldiges hiervoor sal terugkry. Dan hoor jy opmerkings soos: “Die Here slaap nie!” Of: “Die Here onthou.” Daarmee bedoel hulle eintlik dat God ’n langtermyngeheue het vir terugkry. Hy onthou blykbaar sulke dinge teen mense. Wel, die korrekte Bybelse feit is dat God nie altyd so ’n langtermyngeheue het, soos wat party mense dink nie. Dikwels ly Hy aan amnesia. Hy vergeet van Sy kinders se sondes. Hyself sê so in die Bybel. In Psalm 103:12 hoor ons dat die Here Sy kinders se sondes so ver verwyder soos wat die Ooste van die Weste van mekaar verwyderd is. In Jesaja 43:25 vertel God dat Hyself ons opstandigheid vergewe. Hy sê Hy doen dit nie maar net omdat ons dit berouvol aan Sy voete neergesit het nie. Dit ook, maar Hy doen dit, omdat dit presies is wie Hy is. God is getrou aan Homself. Hy is die God van genade en ontferming. Daarom hou Hy nie vir altyd boek van ons oortredings nie.


In Efesiërs 1 skryf Paulus dat God ons lewens aanhoudend oorstroom met alle geestelike seëninge, wat daar is in die hemel. In Efesiërs 2 hoor ons Hy het ons onverdiend en verniet Sy kinders gemaak. Ons leef nou slegs uit Sy genade. Daarom lê ons nie meer rond in ons eie oortredings en gemors nie. Wanneer ons iewers droogmaak, bely ons dit en laat staan dit. Ons troos en hoop en vreugde is dan dat die hemel geen stoorplek meer het vir sulke sondes, wat by God neergesit is nie. Daar is regtig nie een of ander hemelse “cloud”, wat sulke goor data oor ons vir ewig stoor nie. Christus het ons lewe verlig. Hy het Sy lig oor al die donkertes in ons lewe laat skyn. Daarom onthou God nie meer al die droogmaakepisodes in ons lewe nie. Hy onthou wel dat ons nuwe mense in Christus is. Dít onthou Hy vir altyd!

bottom of page