God kyk ons raak
top of page

God kyk ons raak


Weet jy dat God jou raaksien? Lees gerus wat Stephan Joubert hieroor skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief.
God kyk ons raak

Ander mense se oë is altyd op ons. Of ons in ‘n tou staan by die winkel en of ons in ‘n geselskap sit - ander sien raak wat ons sê en doen. Ons is altyd binne mekaar se visier. Nou ja, ons hoef onsself darem ook nie aan elke liewe kyk te steur nie. As party mense ons uitkyk, of as hulle ons op en af kyk, of as hulle ons middeldeur kyk, of as hulle stukkend kyk, is dit nie nodig om eindelose stres hieroor te hê nie. Anders gaan ons nooit ons eie lewe behoorlik geleef kry nie. Ons hoef nooit die slagoffers van ander se kyke te wees nie.

Tog is daar een kyk wat tel. Die Here kyk ons altyd raak. Sý kyk maak saak. Sý kyk tel. Vir mekaar kan ons sekere dinge wegsteek, maar definitief nie vir Hom nie. Daar is nêrens genoeg wegkruipplek nie. Ons kan nooit in die donker leef terwyl die Lig vir die wêreld in die omgewing is nie. Daar’s net een medisyne vir enige donkerte in onsself - ons moet dit lig gee. Ons moet na die ware Lig toe kom, soos wat Johannes 3:21 ons leer. Ons donkertes sal in elk geval iewers aan die lig kom, as ons nie betyds werk daarvan maak nie. Ons is mense van die lig. Ons weet die Here sien ons. Hy kyk ons gedurig raak. Maar gelukkig is Sy kyk ook een van genade. Vra maar vir die verlore seun in Lukas 15:20. Wanneer die Vader sy stukkende kind raak kyk, smelt Sy hart vir hom. Dan hardloop Hy hom tegemoet met liefde en vergifnis. Daarom dat ons graag reg leef om Hom te eer. Daarom is ons bly dat God ons raak kyk.

bottom of page