God giet nie alles in klipharde sement nie
top of page

God giet nie alles in klipharde sement nie


In hierdie Goeie Nuus, skryf Stephan Joubert oor God wat nie alles giet in klipharde sement nie
God giet nie alles in klipharde sement nie
“Kan ek jou teekoppie lees?” vra ‘n tannie my jare gelede. “Hoe bedoel tannie?” wou ek dadelik weet. “Die teeblare onder in die koppie vertel jou toekoms,” sê sy.

Toe sluk ek my hele toekoms net daar in van skrik. Miskien is dit hoekom ek steeds nie tee se nommer een ondersteuner is nie. Ek wil nie elke slag met sulke “feite” op die bodem van my teekoppie gekonfronteer word nie.


Party mense sal in elk geval enigiets doen om die toekoms te ken en te beheer. Nog erger, hulle sal enigiets wat hulle pas oor die toekoms glo. Een van die beproefde uitsprake van hierdie mense is om in die noodlot te glo. “Alles gebeur met ’n rede” is sulke mense se slagspreuk. Dit onthef hulle van enige aanspreeklikheid. “Wat moet gebeur, sal gebeur.” Genadiglik giet God nie alles in sulke lewelose sement nie. Hyself is nie in ’n hoek ingeverf deur onbeweeglike toekomsplanne nie. Die lewende God hoor regtig as sy kinders Hom aanroep en Hy gryp in. Hy sien raak as daar berou en bekering in mense se harte is. In Jeremia 18 sê God dat Hy steeds nog besig is om planne te maak. As Israel hulle bekeer, dan sal Hy sy eie planne hiervolgens aanpas.


Nee, God is nie wispelturig of planloos nie. Hy is die Almagtige. Sy wil en sy planne is in lyn met wie Hyself is. Hy is by ons deur Christus en deur die Gees. Daarom is die toekoms nooit onseker nie, al gebeur slegte dinge met ons en rondom ons. God is nooit uit pas nie. Hy is by ons en saam met ons. Niks kan ons ooit skei van die liefde van God in Christus ons Here nie.

bottom of page