Glo anderkant stilstaan verby
top of page

Glo anderkant stilstaan verby


Die koningin sê vir Alice in die bekende kinderverhaal: “It takes all the running you can do, to keep in the same place. If you want to get somewhere else, you must at least run twice as fast as that!” Presies net so! Dit verg baie energie en krag om vinniger te beweeg. Ek lees juis iewers hoe een fietsrykenner reken enige ernstige fietsryer moet meer as 60% ekstra krag insit net om 20% vinniger te kan ry. Dit is presies ook hoe die res van die lewe werk, ons geloof ook.


As dit maklik was om te glo, dan het almal dit gedoen. Dan het almal dit reggekry om die Here te vertrou. As vasbyt en deurdruk op God se pad die in-ding was, het almal vasgebyt. Geloof vra egter dissipline en gehoorsaamheid. Geloof, wat impak maak, vra om gedurige geestelike alleentyd in die Here se ewige teenwoordigheid. Dit vra getroue nadenke en studie van Sy Woord. Dit vra volhardende gebed. Dit vra om aanhoudend nee te sê vir selfsugtige dinge en ’n gereelde wegvlug van versoekings. Dit vra ’n voltydse lewe van toewyding en geloof. Volharding en getrouheid in die Here se diens is die enigste roete tot regte karaktergroei. Groei in geloof gebeur te midde van daaglikse dissiplines van gebed en studie van die Woord. Dit gebeur te midde van goeie keuses, wat oor en oor gemaak word om selfsug te systap en om God en ander mense te dien met oorgawe. Dan staan ons geloof nie stil nie. Dan groei ons lewens in die regte Rigting. Dan verander ons inderdaad in lewende tempels van die Here, waar Hy elke dag tuis is. Dan bring ons groot vreugde aan Hom.

bottom of page