top of page

Gewone mense maak vir die Here saak


Maak gewone mense vir God saak? Lees wat skryf Stephan Joubert hieroor in sy nuutste Goeie Nuus
Gewone mense maak vir die Here saak

Die evangelies vertel om elke hoek en draai vir ons hoe Jesus omgee vir stukkendes, uitgeworpenes, afgeskryfdes en randfigure. In Markus 2 sê Jesus juis ook dat Hy nie gekom het vir mense, wat meen hulle is op die regte pad nie, maar vir sondaars. Maar dit beteken nie dat ons eers supersondaars moet wees voordat Jesus ook kans sien om ons laste en oortredings op Sy skouers te tel nie. Ons hoef nie eers ’n rowwe lewe te geleef het nie. Ons hoef nie ‘n duiwelaanbidder of ‘n dwelmslaaf of een of ander verskriklike misdadiger te gewees het om binne Jesus se visier te wees nie. Voordat jy my verkeerd hoor - dit is wonderlik as mense, wat in sulke leefstyle vasgevang was, kragdadig deur Jesus gered is. Nogtans hou Hy ook van gewone mense,wat verlore was (en wat steeds is!).


Gewone mense het die Here se genade net so nodig as diegene, wat dalk nog dieper en verder geval het. Wag, kom ons sê dit reg. Ons almal het ewe veel nodig dat Christus ons moet red. Ons almal maak vir God ewe veel saak. Hy trek niemand van ons voor nie. Hy wil ons almal naby aan Hom hê. Daarom het Hy, wat die goeie Herder is, ons elkeen kom opsoek, of ons nou baie ver geval het, of nie. Jesus het ons elkeen met ewe veel sorg en liefde na ons Hemelse Vader se huis teruggedra. In God se huis het Hy vir ons almal plek gemaak. Nou is ons elkeen, wat in Jesus glo, God se kinders. Hy is ewe lief vir ons almal.

Comentários


bottom of page