Gerieflik afgestomp, of nie!
top of page

Gerieflik afgestomp, of nie!


“Comfortably numb.” Hierdie titel van een van Pink Floyd se liedere bly my steeds by, veral daardie woorde: “The child is grown. The dream is gone. I have become comfortably numb.” Dit gebeur met baie van ons. Ons raak gerieflik afgestomp. Die realiteite van die lewe slyp ons algaande stomp. Ons raak gewoond aan enigiets en aan alles - misdaad, geweld, vermaak, sport, mekaar, kerk, godsdiens … Jy noem dit en ons ken dit! Niks hou ons aandag meer vir lank nie. Ons raak voltyds verveeld. Ons benodig gedurig nuwe stimulasie. Ons raak boonop ’n bietjie meer sinies en ’n tikkie meer ontnugterd.


Ons moet keer dat ons verwondering in 2022 verdwyn. Ons moet in Matteus 18 by Jesus gaan leer hoe. Hier sê Hy dat as ons as Sy dissipels nie verander en weer kinders word nie, sal ons nooit in die koninkryk van God ingaan nie. Kinderlike geloof, naïwiteit en verbeeldingrykheid is broodnodig in hierdie harde 2022-wêreld. Ons moet opnuut leer om deur Jesus se oë na die lewe te kyk en na ander mense rondom ons. Ons moet leer om op te kyk. Ons moet leer om verras te word. Ons moet leer om nuuskierig en leergierig te wees. Ons moet meer vrae hê as wat ons tans het. Ons moet opnuut skattejagters word in die skatkamers van die Here. Dan sal die verwondering terugkeer. Dan sal ons weer tussen die lyne en ook agter die skerms vreugde in eenvoud vind. Ons sal weer voor God klein word. Ons sal in heilige verwondering na Hom opkyk. Dan sal ’n lewe van deernis en omgee ons eie roete word. Nie net die Here nie, maar ander mense ook, sal groter as onsself raak. Ons sal mense reg raaksien en waardeer. Ons sal bereid wees om by elkeen, wat ons pad kruis, iets te leer. Want dit is presies wat mense doen wat in verwondering voor God en tussen ander leef. Hulle is opgeskerp, nie afgestomp nie. Hulle is “comfortably energised” deur die Here se daaglikse goedheid in hulle lewe.

bottom of page