Genade = die Gees Persoon-lik!
top of page

Genade = die Gees Persoon-lik!


Lees Efesiërs 2:4


Nee, dis glad nie so volop in ons dag as wat ‘n mens dink nie! Ek praat van genade. Vra maar vir Maarten Luther, die groot hervormer, wat jare lank tydens die sestiende eeu na ‘n genadige God in die kerk gesoek het. Gelukkig het hy op ‘n dag ontdek dit werk net mooi andersom. Met sy soektogte en al is hy op ‘n dag ingehaal deur die God van genade! Toe Luther, die groot genadebedelaar, aan God se voete in Christus se Naam rus gevind het, was daar skielik ‘n nuwe passie in sy hart, waaroor hy nooit kon ophou praat en skryf nie. Dis g’n wonder dat Life Magazine Luther aangewys het as die derde mees invloedryke persoon van die vorige millennium nie.


Die Gees eggo vandag steeds ‘n eenvoudige getuienis in ons harte: sola gratia, genade alleen! Alles staan en val op die ou end by genade, by daardie genade, waarvan Jesus die regte Naam en Adres is! Dis immers daar dat die Heilige Gees op Sy allerbeste is! Dis die Gees se werk om lewens van genadeloos tot genadevol te verander. Hy maak genade Persoon-lik. Hy gee ‘n splinternuwe betekenis aan God se nabyheid. Hy is God in naby-aksie. Hy is ons Redder, Versoener en Padbouer. Hy maak die verskil tussen dood en lewe. Daarom moet jy na die Gees opkyk as jy oor genade praat. Jy moet jou lewe elke keer vir Hom oopstel.


Gebed:

Laat die Gees se genade oor my spoel. Vandag het ek dit spesiaal nodig, Here. Amen.

bottom of page