top of page

Geloof is wat ons nodig het …


Die afgelope twee Dune-flieks is sekerlik van die beste wetenskapsfiksie van die afgelope paar dekades. Dit hanteer baie relevante lewenstemas, soos leierskap, integriteit, die gebruik en misbruik van mag, Messiasskap, geloof, godsdiens en nog meer. Wat interessant is, is dat die skrywer van die oorspronklike boeke, asook die draaiboek, geen positiewe of negatiewe uitspraak aangaande geloof en godsdiens maak nie. Daaroor moet die kyker self sy oordeel fel. Dit beeld wel uit hoe sekere mense dit beleef en uitleef. Een dialoog in die tweede fliek het my nogal aan die aard van geloof laat dink. Prinses Erulan is aan die gesels oor die planeet Arrakis, ‘n woestynplaneet met sekere uiters onherbergsame gedeeltes, wat bykans onbewoonbaar is. Die prinses probeer dan hierdie realiteit uitbeeld deur die volgende woorde:


“The southern parts of Arrakis. These are foreign, burnt lands, hidden by sandstorms that stretches a thousand miles across wastelands. Nothing can live there without faith.”


Woestyne is gewoonlik plekke, wat as leweloos beskou word. Byna niks kan daar groei nie. Die meeste lewende dinge vrek vinnig. Dis ook nie maklik om God hier te beleef nie, want woestyne is plekke van skaarste en uiterstes. Daar is byna geen water nie. Dis uitermate warm en in die nagte yskoud. Net die kragtigste dinge kan hier oorleef, soos ware geloof. Ware geloof kan hierdie woestynelemente trotseer. Trouens, die Bybel vertel vir ons dat dit juis in die woestyn is waar die mense van God gevorm word. Dink maar aan Moses, Elia, Johannes die Doper en Israel. En natuurlik Jesus self. Die soort geloof, wat ons deur die lewe kan dra, is die soort geloof, wat in ‘n woestyn gevorm is. Dis die soort geloof, wat die barheid, dorheid en tekorte van die woestyn oorleef het. So ‘n geloof floreer in die gewone daaglikse lewe. Dit word nie onkant gevang deur tye van tekort of swaarkry nie.


Geloof word dus nie net in die woestyn gevorm nie. Dit dra ons ook deur woestyne en storms. Ons het nie werklik geloof nodig, wanneer dit goed gaan nie. Nee wat. Vir goeie weer en die gewone lewe is natuurlike menslike optimisme heeltemal goed genoeg. Maar vir woestyne en storms het ons gelóóf nodig! Geloof dat Jesus op die troon van die kosmos sit, dat Hy met ons is. Geloof is natuurlik goed in voorspoedige tye ook. Maar nooit is dit so nodig soos in swaar tye nie.


G’n wonder dat Jesus mense met groot geloof geprys het nie. G’n wonder dat Hy vir Petrus vra: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” nie. G’n wonder dat Jesus besorg was oor ons geloof nie. G’n wonder dat Hy gevra het: “Maar sal die Seun van die mens by Sy koms nog geloof op die aarde vind?”

Kommentare


bottom of page