Geloof gebeur op die Here se terme
top of page

Geloof gebeur op die Here se terme


Geloof is nie ’n selfverbeteringprogram nie. Geloof help jou nie maar net om ’n beter mens te word nie. Dit laat jou volgens Jesus se beginsels leef. Sy standaard is baie hoog. Sy standaard is dié van selfopofferende liefde. Sy liefde veroorsaak dat jy jouself prysgee in diens van God en ander. Sy liefde veroorsaak dat jy jou voorkeure, jou gerief, jou keuses, en jou leefroetes aanpas by dit wat God eer en wat ander mense bevoordeel. Dit veroorsaak dat jou keuses nie langer oor jou eie voordeel gaan nie. Nou gaan dit oor die regte keuses wat God eer en wat ander mense opbou.


Om Jesus te volg, beteken jy deel Sy hart wat warm vir armes, minderbevoorregtes en afgeskryfdes klop. Dit veroorsaak dat jy bereid is om op te offer, eerder as om gedurig te vereis. Dit veroorsaak dat jy vrygewig is, eerder as dat jy net nog wil hê. Dit veroorsaak dat jy ander mense se belange al hoe meer bokant jou eie stel. Hierdie roete is nie altyd maklik nie; daarom is daar so min opregte navolgers van Jesus in die omtrek. Wees asseblief die uitsondering. Leef volgens Jesus se standaard.

bottom of page