top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Geen ouderdomsbeperking op geloof nie


“Jongmense kom nie meer kerk toe nie,” hoor ek iemand sê. “Hoe gaan ons tieners bereik met die evangelie?” vra iemand anders. Terwyl almal hieroor praat, onthou ek dat ek iewers gelees het die woord “teenager” het eers in 1673 in ‘n Engelse leksikon verskyn. Die idee van generasiegapings het eers vanaf die negentiende eeu af opgeduik. Toe besef ek opnuut dat die Bybel nooit in terme van ouderdom dink, wanneer die uitleef van geloof ter sprake is nie. Anders gesê, mense is nooit te jonk om vir die Here te leef nie. Of te oud nie.


Ouderdom is nooit ’n voorwaarde of ’n verskoning(!) om God te dien nie. Abraham is eers op 75-jarige ouderdom geroep om ’n nuwe roete vir God in te slaan. Op sy beurt kon Jeremia ook nie skuil agter sy jeugdige ouderdom, toe hy as profeet geroep is nie. Daar bestaan nie verskillende kategorieë, soos “afgetrede Christene” of “te jong Christene” nie. Ons almal, jonk of oud, het presies dieselfde roeping. Dit is om elke dag ons kruis op te neem en Christus te volg. Daarom moet ons nie net vir tieners nie, maar ook vir ouer mense met die evangelie bedien. Daar is geen ouderdomsbeperking op geloof nie.

Comments


bottom of page