Gee tot jy dit voel
top of page

Gee tot jy dit voel


Stephan Joubert skryf in hierdie artikel dat die Heilige Gees ons roer om te gee.
Gee tot jy dit voel

Lees Handelinge 2:45


Jare gelede het ‘n prediker een keer in ‘n preek gesê dat as ons ou klere na die kerk toe bring, dan moet ons seker maak dis silwerskoon. En as ons gebruikte goedere weggee, moet ons seker maak dis in ‘n goeie toestand. Die kerk is nie maar net ‘n gerieflike aflaaiplek vir rommel wat in ons pad is nie. Ook het hy bygevoeg dat Geesvervuldheid wys in die maniere hoe ons teenoor die armste mense optree.

Sy woorde het almal in beroering gehad. Ek het ek iemand na die tyd hoor sê: “Arm mense is maar te dankbaar vir enigiets wat hulle kry.” Nog iemand het gemompel: “beggars can’t be choosers.” Toe dink ek aan Sam, daardie bedelaar wat gereeld by ons huis aangeklop het. Eenkeer het hy vir my vrou gesê: “Ag is daar nie ietsie anders as net konfyt op die broodjie nie? Almal gee dit vir my en sê ek moet stilbly. Kan ek vir mevrou vir ietsie special op die brood vra?”


Ek wonder wat Jesus dink van al ons “omgee en weggee” – dit terwyl ons voorgee dat die Gees in ons werk? Is dit wat ons weggee regtig offers, of is dit oorskiet wat maar in ons pad is. Om te gee, is ‘n offer. Jy voel dit iewers aan jou lyf, of aan jou sak. Anders het jy nog nie regtig gegee nie. Ander wys jou Geesvervuldheid nog nie genoeg nie.


Gebed

Jesus, laat my opoffer vir ander en ter wille van U. Amen

bottom of page