Gee al die spasie vir die hemelse Binnehuisversierder
top of page

Gee al die spasie vir die hemelse Binnehuisversierder


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor hoe dit lyk as God binne ons kom woon deur Sy Gees
Gee al die spasie vir die hemelse Binnehuisversierder

Dit was die skrywer Franz Kafka, wat gesê het ’n goeie boek moet soos ’n byl wees om daardie bevrore oseaan binne-in ons elkeen oop te breek. Op sy beurt skryf Paulus in 2 Korintiërs 3:2-3 dat dit God se Gees is wat ons harde harte verander en oopbreek. Hy doen dit wanneer Hyself ons harte as Sy nuwe skryfpapier gebruik. Die Gees skryf nie meer op harde klip, soos daar in Moses se dae toe die wet nog op kliptafels was nie. Hy skryf hier binne-in ons. Met die Woord as Sy rigsnoer doen die Heilige Gees die binnehuisversiering in ons lewe. Hy smelt ons bevrore harte. Hy verlig al die donkertes in ons. Hy maak ons vry van alles, wat ons gevange hou. Hy maak ons gedagtes vol met alles wat waar, rein, eerbaar, mooi en opbouend is.


Die Gees verlig ons lewens met sy krag, liefde en selfbeheersing, soos wat Paulus in 2 Timoteus 1 skryf. Hy maak ons vol met Sy vreugde. Hy verander ons lewens in lyn met Sy hemelse bouplanne, wat orals in die Woord ingemessel is. Hy verander ons al hoe meer om God se goedheid te weerkaats. Presies so doen die Gees Sy hemelse binnehuisversiering in ons. Presies so laat Hy ons soos tempels lyk, waar die Allerhoogste God met vrymoedigheid kan woon. O ja, en Hy hou nooit op met bou en werskaf in ons nie. Wanneer die Gees die tender aanvaar het om in ons lewens te bou en om sy binnehuisversiering te doen, hou Hy vir altyd hiermee aan! Dan is ons lewenslank onder konstruksie van die Heilige Gees.

bottom of page